Rusland en China Blokkeer VN-poging om Hormuz-straat te Heropen
CCN Verslaggewer – George April
In ’n dramatiese ontwikkeling op die wêreld verhoog, het Rusland en China hul vetoreg gebruik om ’n belangrike resolusie van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad te blokkeer.
’N resolusie wat gemik was op die heropening van die strategiese Straat van Hormuz. Die besluit kom te midde van toenemende spanning in die Midde-Ooste, waar die see-roete as een van die wêreld se belangrikste olie-deurgange beskou word.
Enige ontwrigting hier het direkte gevolge vir globale energiepryse en ekonomiese stabiliteit.
Diplomate van Rusland en China het tydens die sitting sterk standpunt ingeneem en aangevoer dat die konflik op Iran afgedwing is. Volgens hulle is die Verenigde State en Israel die primêre aanstigters van die huidige spanning.
Ten spyte van steun van elf lande, insluitend die VSA en verskeie Golf-bondgenote, kon die resolusie nie slaag nie. Pakistan en Colombia het verkies om te abstineer, terwyl Rusland en China se veto die finale deurslag gegee het.
Die mislukking van die resolusie plaas nou verdere druk op diplomatieke pogings en laat die internasionale gemeenskap met meer vrae as antwoorde. Intussen hou die wêreld asem op, aangesien die situasie rondom die Hormuz-straat toenemend broos bly.

