HOPEFIELD:- Ek was verlede jaar deur ’n sakeman gedagvaar om in die Hopefield-landdroshof te verskyn, bloot omdat ek sy naam nie in die media mag noem nie, ongeag sy dade.
Saam met Billie Classen van Piketberg is ek aangekla en het ons, ons eerste hofverskyning gemaak, waarna ons ’n nuwe datum gekry het om weer in die hof te wees.
Ongelukkig het ek die presiese datum vergeet en vir Billie gekontak om dit te bevestig. Hy was self nie seker nie. Op grond van my herinnering het ek aangeneem dit was op ’n Dinsdag. ’n Week voor die verwagte datum het ek vir Billie in Hopefield gesien, en ons het die saak bespreek. Ek het opgemerk dat daar nooit hofverrigtinge in Hopefield op ’n Maandag is nie, en hy het aangebied om dadelik by die hof navraag te doen. Ek het egter nooit weer terugvoer van hom ontvang nie en het dus aanvaar dat my oorspronklike datum korrek was.
Soos dit die noodlot wou hê, was ek die betrokke Maandag op ’n plaas sonder my selfoon. Die volgende dag het ek gehoor dat die hofsaak reeds die vorige dag plaasgevind het. ’n Polisiebeampte het beweer dat hulle probeer het om my te kontak, maar my nie kon opspoor nie. Ek het onmiddellik by die hof navraag gedoen en is meegedeel dat ek die reg het om appèl aan te teken. Ek het al die nodige dokumente ingevul en gewag op ’n reaksie—wat nooit gekom het nie.
Nou, maande later, hoor ek van ’n lid van die gemeenskap dat die magistraat Vrydag vir iemand gesê het, daar is ’n hofbevel teen my wat my verbied om vir die volgende 10 jaar oor die betrokke sakeman te skryf. Dit het aan die lig gekom, toe iemand aan die magistraat gesê het, dis ‘n wonder dat ek nog nie ’n storie geskryf het oor die sakeman wat toegesluit is nie? Die betrokke persoon wat dit aan my vertel het, was nie deel van die gesprek nie
Die kern van die saak is eenvoudig:
✅ Ek het ’n geldige rede gehad waarom ek nie in die hof was nie.
✅ Ek het die prosedures gevolg en appèl aangeteken, soos die magistraat aanbeveel het.
✅ Ek het nooit weer terugvoer ontvang nie.
✅ Nou verneem ek uit die gemeenskap, en nie van die hof self nie, dat daar ‘n 10 jaar verbod teen my is, om nie oor die sakeman te skrywe nie, ongeag of dit nuuswaardig is
Dit terwyl ek nooit die kans in die hof gekry het, om sy aansoek teen te staan nie
Hierdie is niks minder as onreg en misbruik van mag nie. As die regstelsel onpartydig was, sou ek op ’n regverdige manier ingelig gewees het oor enige beslissings teen my.
Die betrokke persoon is blykaar al Dinsdag in hegtenis geneem, en tans in polisie aanhouding, en verskyn blykbaar Maandag in die Velddrif-landdroshof. My vraag aan die owerhede is eenvoudig: Hoekom word die wet nie konsekwent toegepas nie? Hoekom word sommige beskerm terwyl ander uitgesluit word?
Ek weier om stil te bly oor hierdie blatante vorm van onderdrukking, selektiewe geregtigheid en onregverdige behandeling. Diegene wat verantwoordelik is vir hierdie korrupsie moet aanspreeklik gehou word.
Die uurglas het aangebreek, geen korrupte regstelsel gaan my stilmaak nie.

