Geregtigheid vir Jenito Smith: Pa en seun verskyn in hof vir moordsaak
Danksy die volgehoue hulp van gemeenskapsaktivis Deon Carelse van Kaapstad, verskyn ‘n pa en seun vandag, 20 Maart, in die Moorreesburg-landdroshof in verband met die moord op Jenito Smith.
Jenito, wat volgende maand op 19 April sy 20ste verjaarsdag sou vier, is in 2022 as 17-jarige noodlottig met ‘n mes gesteek in die middedorp. Volgens ooggetuies het hy onmiddellik inmekaar gesak en op die toneel gesterf.
“Alhoewel daar ooggetuies was wat kon bevestig wat gebeur het, het daar aanvanklik niks van die saak gekom nie,” het Carelse verduidelik. “Die ma van die oorledene het my gekontak nadat die saak bloot stilgeraak het. Nadat ek verskeie polisiedepartemente genader het, het hulle my laat weet dat lasbriewe uitgereik is vir die pa en seun. Dit het daartoe gelei dat hulle vandag in die Moorreesburg-hof verskyn, waarna die saak na die Malmesbury Streekhof oorgeplaas sal word.”
Volgens Carelse word die pa ook aangekla van moord omdat hy blykbaar die mes aan sy seun gegee het, waarmee Jenito doodgesteek is.
Jare van boeliegedrag en teistering
Die moord was die tragiese klimaks van ‘n geskiedenis van aanranding en boeliegedrag. “Die pa is ’n bekende gangster, en sy seun het nie net Jenito nie, maar blybaar ook sy suster vir jare geboelie en geteister,” het Carelse gesê. “Die dogter het só swaar gekry dat sy na bewering selfs selfmoord oorweeg het.”
Volgens Jenito se ma, Marinda Smith, moes die gesin nie net hul seun se skielike dood verwerk nie, maar ook hul dogter beskerm teen die voortdurende dreigemente van die beskuldigdes. Die situasie het só ernstig geraak dat hulle interdikte moes bekom om haar veiligheid te verseker.
“Met die interdikte het dinge effens verbeter,” het Marinda gesê. “Ellerine is verlede jaar Desember in die kerk aangeneem, en dit het gehelp om haar geestelik te versterk.”
Carelse en die familie hoop dat geregtigheid uiteindelik sal seëvier ná twee jaar van stilte rondom die saak. “Ons is dankbaar vir almal wat gehelp het om die saak weer op die hofrol te kry,” het Marinda afgesluit.
“Jenito se dood was ‘n hartverskeurende slag vir ons gesin, maar ons glo dat die waarheid nou uiteindelik sal uitkom.”

