OOR ASBES HUISE EN DIE GROOT BEHUISINGS PROBLEME – HOPEFIELD GEMEENSKAP FORUM
Voorsitter en skrywer – George C April
HOPEFIELD:- Die inwoners van Hopefield is moeg vir leë beloftes en gebrek aan daadwerklike optrede oor die onwettige asbeshuise waarin hulle moet woon.
Hierdie huise is nie net onwettig nie, maar hou ook ‘n ernstige gesondheidsgevaar in vir kinders en bejaardes. Tog blyk dit dat die Saldanhabaai Munisipaliteit, wat deur die Demokratiese Alliansie (DA) in samewerking met die Vryheidsfront (VF) bestuur word, geen werklike belangstelling toon om hierdie probleem op te los nie.
HGF se Stryd Teen Onredelike Uitsettings
Reeds in Oktober 2024 het die Hopefield Gemeenskap Forum (HGF) vergaderings aangevra met die Saldanhabaai Behuisingskomitee, maar dit het op ‘n dooie punt uitgeloop. ‘n Vergadering is wel gehou, maar in plaas daarvan om oplossings te bied, het die munisipaliteit inwoners seergemaak met ultimatums: gesinne moes eienaarskap aanvaar van die asbeshuise, iets wat die HGF ten sterkste teengestaan het.
Daarna het Saldanhabaai Munisipaliteit verder onregverdig opgetree toe 13 gesinne kennisgewings van uitsetting ontvang het. As voorsitter van HGF het ek persoonlik die Vredenburg-kantoor besoek en die voorsitter van die Grondkomitee gekonfronteer oor hierdie briewe. Haar antwoorde was vaag en nie eens die moeite werd om oor te dra nie. Dit is duidelik dat hierdie briewe bedoel was om die gemeenskap se aandag weg te neem van die ware probleem: die gevaarlike asbeshuise en die algehele behuisingsnood in Hopefield.
15 Jaar in ‘n Sinkhok – En Nog Steeds Geen Huurhuis Nie.
Die behuisingskrisis in Hopefield raak duidelik wanneer ‘n inwoner wat my genader het, vertel dat hy en sy gesin al 15 jaar in ‘n agterplaaswoning woon. Sy oudste kind is in hierdie sinkhok gebore, en steeds het hulle geen antwoorde of hulp van die plaaslike raadslid ontvang nie. Verskeie navrae aan die Saldanhabaai Munisipaliteit word eenvoudig geïgnoreer.
Gemeenskap verlang ‘n Raadslid wat Deur Die Mense Gekies Is.
Die DA-raadslid van Hopefield het oor die afgelope nege jaar nog nie een gemeenskapsvergadering gereël om klagtes en probleme met inwoners te bespreek nie. Tog was sy betrokke by die onwettige uitsettings, aangesien sy saam met die Saldanhabaai bestuur een van die eerstes in die saal was toe hierdie besluite geneem is.
Nou, met die verkiesing wat nader kom, word gerugte versprei dat huise binnekort in Hopefield gebou gaan word. Maar soos een inwoner dit gestel het: “Dit is net ‘n politieke skuif – dit gebeur elke keer voor ‘n verkiesing. Waarom roep die raadslid nie ‘n vergadering en lig ons in nie?”
Hierdie is vrae wat beantwoord moet word.
Waarom Nie ‘N Besoek Aan Hopefield Nie – Burgermeester?
Twee weke gelede is ‘n ope dag by die Elandsfontein Myn in Hopefield gehou, wat deur Saldanhabaai se burgemeester, Andre Truter, bygewoon is. Dit bring ‘n belangrike vraag na vore: as die burgemeester tyd het om ‘n mynskou by te woon, waarom het hy nog nooit die gemeenskap besoek om na hul behuisingsprobleme te luister nie? Die myn is ‘n ekonomiese goudmyn vir Saldanhabaai Munisipaliteit, maar Hopefield se inwoners sien min of geen voordele daarvan nie.
Tyd Vir Aksie
Hopefield se inwoners moet nou opstaan as hulle ernstig is oor dienslewering. Die tyd vir stilbly en wag is verby. Die Hopefield Gemeenskap Forum roep alle inwoners op om aan te dring op vergaderings en antwoorde van die munisipaliteit. Dit is tyd dat plaaslike amptenare hul pligte uitvoer en vir die mense werk wat hulle veronderstel is om te dien.**