Berig – George April
Weskaap:- ’n Ontstellende voorblad van Die Burger met die woorde: “32 000 kinders in Wes-Kaap ly ná Trump-besluit” het duisende reaksies op sosiale media ontlok.
Die plakkaat, met ’n teddiebeertjie en rooi kruisie voorop, het ’n vurige debat ontketen. Nie net oor wie die blaam dra nie, maar oor wie werklik verantwoordelik is vir Suid-Afrika se kinders.
Een van die eerste kommentare wat sin maak tussen die geraas, kom van Davy Zass:
Davy Zass: “Johrine Lochner waarom hardloop julle dan in die eerste Amerika toe met ’n interne SA probleem… Jou APARTHEIDSREGERING was net so onder buiteland se skuld… Trump en VSA kry die skuld omdat onskuldige kinders gestraf word, oor AfriForum en Solidariteit se LIEGSTORIES oor VOLKSMOORD…”
Zass vra ’n belangrike vraag: hoekom verwag ons hulp van Amerika met ’n probleem wat ons self skep? Sy kommentaar gaan egter verder, dit wys dat alle kinders ly, nie net een kleur of groep nie.
En tog, in die see van kommentare is dit nie altyd dié soort insig wat die meeste aandag kry nie.
Sosiale Media – ’n Nuwe Apartheid van Woorde?
Wanneer mense hul frustrasie op platforms soos Facebook uitwoed, ontstaan daar twee gevaar situasies; Polarisasie – Kommentaar soos dié van Dina Smit wat sê: “Afrika steel boonop alles wat hul bedel!” of Corne van Tonder se woorde: “’n Swart man sal nooit skuld erken nie…
” Dit bevorder nie debat nie, maar bou mure van haat. Dit bring herinneringe terug van die presiese stelsel wat ons as land probeer oorkom het.
Verskuiwing van Aandag – In plaas daarvan om op oplossings te fokus, kinders se kos, toegang tot skool, ondersteuning vir enkelma’s, huishoudings , val ons terug op skuldspel.
Interne Vrae – Waar is ons nou?
Ja, Amerika het eens ’n rol gespeel om apartheid te help beëindig, deur druk, sanksies en internasionale veroordeling. Maar vandag is die vraag nie wat Trump gedoen het nie, maar wat ons as Suid-Afrikaners bereid is om vir mekaar te doen.
Want of jy nou in Blikkiesdorp of in ’n spogwoonbuurt bly, 32 000 kinders wat ly, is ons almal se probleem.
Ons Toekoms hang aan ons Taal
Wanneer kommentare op sosiale media meer gif as genade bevat, trek dit ons almal terug. Die kinders waaroor die berig handel, kan nie hul eie stories skryf nie. Ons Suid Afrikaners moet dit vir hulle doen, met hoop, aksie en verantwoordelikheid.
Soos Davy Zass tereg sê: “Onthou daar is Blanke kinders ook wie geraak word…” die armoede diskrimineer nie meer volgens kleur nie.
Ons moet begin bou, met woorde, dade, en gemeenskapsoplossings.
Jou sê – Wat dink jy?
Laat weet ons in die kommentare, maar vra jouself eers af; Gaan my woorde bou, of breek?
En as jy regtig ’n verskil wil maak, begin in jou straat, jou buurt, by jou kinders.