236 Ongelukke in Net 10 Dae
Verslaggewer – George April
KAAPSTAD – Die gevaarlike kombinasie van nat paaie en onverantwoordelike bestuur het die afgelope week duidelik geword toe Kaapstad se Brand- en Reddingsdienste op meer as 230 ongelukke moes reageer
Dit alles binne ’n tydperk van net 10 dae.
Tussen Vrydag 27 Junie en Sondag 6 Julie is daar op 162 motorongelukke en 74 voorvalle waar voetgangers betrokke was gereageer. Volgens die Stad van Kaapstad is dit waarskynlik nog nie eens die volle prentjie nie, aangesien nie alle ongelukke sentraal aangemeld word nie.
“Baie voorvalle word nie by een sentrale punt aangemeld nie, en as daar nie ernstige beserings is nie, gaan mense dikwels direk na die polisiestasie,” sê Raadslid JP Smith, Burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit. “Die ware syfers is dus waarskynlik hoër.”
Smith het padgebruikers gemaan om hul bestuursgewoontes aan te pas, veral tydens reënweer.
“Selfs ‘n klein botsing kan groot emosionele én finansiële gevolge hê. Stadiger ry en verhoogde waaksaamheid is nie net goeie raad nie, dit red lewens,” beklemtoon hy.
Stryd teen Oortredings Word Ook Verskerp
Terwyl die ongeluk statistieke toeneem, het Kaapstad se wetstoepassings agentskappe ook hul sigbaarheid verhoog:
- 183 arrestasies in net 10 dae
- Meer as 26 000 verkeersoortredings aangeteken
- Vier vuurwapens herwin – onder meer in Tafelsig, Beacon Valley en Crossroads
Wetstoepassingsbeamptes was verantwoordelik vir 91 van die arrestasies, terwyl Verkeersdienste 21 188 oortredings afgeteken het en 229 openbare vervoervoertuie verwyder is van die pad.
Onder die inhegtenisnemings was:
- 12 vir bestuur onder die invloed van alkohol
- 1 vir roekelose en nalatige bestuur
- 9 op ander aanklagte
Metropolisiebeamptes het hul deel ook gedoen:
- 70 arrestasies
- 1 742 verkeerskennisgewings
- Dwelms, ‘n gesteelde voertuig en selfs namaak-vuurwapens is gekonfiskeer
Versigtigheid is Nie Opsioneel Nie
Die Stad van Kaapstad doen ‘n ernstige beroep op alle motoriste én voetgangers om ekstra versigtig te wees in die winter. Nat en gladde paaie, swak sig en haastige gedrag skep ’n gevaarlike kombinasie.
“Elke padgebruiker het ’n verantwoordelikheid, vir hul eie veiligheid en dié van ander.
’N Bietjie versigtigheid kan ’n lewe red,” waarsku Smith.

