Berig – CCN Verslaggewing
Mthatha:- ‘N onlangse hofuitspraak dien as ‘n ernstige waarskuwing aan alle werkgewers in Suid-Afrika wat buitelandse werkers in diens het, ook dié sonder geldige werkspermitte.
Die Oos-Kaap Hooggeregshof in Mthatha het beslis dat die afdanking van ‘n Zimbabwiese werknemer deur die O.R. Tambo-distriksmunisipaliteit onregmatig was, al het die werker nie meer ‘n geldige werkspermit gehad nie.
Die hof het benadruk dat artikel 38 van die Immigrasiewet nie bedoel is om die grondwetlike reg op billike arbeidspraktyke te beperk nie. Met verwysing na die Discovery Health v CCMA-saak het die hof bevestig dat buitelandse werkers steeds beskerming geniet onder die Suid-Afrikaanse arbeidsreg, selfs al is hul werkstatus ongeldig.
Die betrokke werknemer is sedert 2009 op ‘n vaste termynkontrak deur die munisipaliteit in diens geneem. Sy oorspronklike werkpermit het jare tevore verval, maar die munisipaliteit het hom steeds in diens gehou totdat hy in November 2023 afgedank is, met die vervalde visum as rede.
Die werknemer het die afdanking in die hof betwis, en die hof het saamgestem dat die afdanking onbillik en onwettig was, omdat die regte prosedure nie gevolg is nie.
Hoewel die hof nie heraanstelling of vergoeding toegeken het nie, is die munisipaliteit beveel om die regskoste van die saak te betaal.
“Die hof het die belangrike beginsel bevestig dat buitelandse werknemers nie van arbeidsremedies ontneem mag word, net omdat hul kontrak ongeldig is weens ‘n vervalde werkvisum nie,” het regsfirma Webber Wentzel gesê.
Die uitspraak is ‘n duidelike boodskap aan werkgewers; afdankings moet altyd op regmatige gronde geskied en volgens behoorlike prosedures, ongeag ‘n werknemer se immigrasie status.
Volgens Webber Wentzel moet werkgewers ‘n fyn balans handhaaf tussen die nakoming van immigrasiewette en arbeidswetgewing. Die firma waarsku dat versuim om immigrasiewette na te kom kriminele strawwe kan meebring, insluitend boetes of selfs tronkstraf tot een jaar.
Tog mag hierdie nakoming nie ten koste van werknemers se regte kom nie.
Webber Wentzel beveel aan dat werkgewers gereeld hul personeel se dokumentasie nagaan, en hul buitelandse werkers help waar werkpermitte naby aan verval is, om só prosedurele billikheid te verseker.
Foto – Sosiale Media
