Munisipaliteit swyg oor vrae terwyl wanbesteding en verkiesingstaktieke vermoed word
Berig – George April
HOPEFIELD – Inwoners van Hopefield, veral die gemeenskap van Oudekraalfontein, sê hulle is moeg vir verwaarlosing, lee beloftes en ’n munisipale bestuur wat eerder stilbly as om eerlik antwoorde te gee.
Na herhaalde pogings om antwoorde te kry oor die meer as R3 miljoen wat glo vir Hopefield (Wyk 7) se infrastruktuur en dienslewering begroot is vir die 2024/25-boekjaar, het die Demokratiese Alliansie beheerde Saldanhabaai Munisipaliteit nie gereageer, op ’n formele media-navraag gestuur aan die burgemeesterskantoor en die munisipale bestuurder nie.
Ook het die burgemeester en Wyk 7 se raadslid, Miranda Schrader, nie opgedaag by ’n gemeenskapsvergadering wat deur die Hopefield Gemeenskap Forum gereël was nie. ’N vergadering wat spesifiek gereël was om inwoners se vrae aan hulle te stel. Nie eens ’n formele verskoning of reaksie op die uitnodiging is ontvang nie.
Intussen loop die gerugte, blykbaar versprei deur die raadslid self, dat huise in Hopefield eers in 2026/27 gebou gaan word. Hierdie “verkiesingspraatjies”, soos inwoners dit beskryf, was een van die kwessies op die vergadering se agenda.
“Mense raak moedeloos. Ons wil weet: waarom word miljoene op sypaadjies in sogenaamde blanke woonbuurte bestee, terwyl paaie in die bruin woongebiede soos Oudekraalfontein letterlik uitmekaar val?” sê ’n lid van die Forum.
Volgens die 2024/25 begroting van die munisipaliteit, is Hopefield (Wyk 7) begroot op R3,055 miljoen vir kapitaalbesteding, en R3,555 miljoen vir die volgende jaar. Maar geen konkrete antwoorde oor waaraan daardie geld bestee word of gaan word, is tot dusver verskaf nie.
Inwoners meen dat projekte doelbewus uitgestel word, vir nuwe beloftes tot voor die verkiesing.
“Ons weet mos nou al, volgende jaar gaan daar weer kos, komberse en koekies uitgedeel word tydens die verkiesing. Dis dan wanneer beloftes gemaak word, maar ons paaie is steeds vol gate. Ons krane droog soms op, en dienslewering bestaan net op papier.”
Die Hopefield Gemeenskap Forum sê hulle sal voortgaan om druk uit te oefen en versoek Oudekraalfontein se inwoners om op te staan, en saam te werk vir geregtigheid en dienslewering.
Die Forum oorweeg dit nou om die saak voor te lê aan provinsiale en nasionale owerhede, indien plaaslike leiers bly weier om te reageer.
Foto – Die riethuis val nou letterlik uitmekaar, en sal verseker na die volgende verkiesing afgebreek moet word.