Verslaggewer – Isaac Cloete
Springbok:- Vrydag beloof om ’n geskiedkundige dag te wees vir talle gemeenskappe in die Namakwa-streek, wanneer duisende hektaar grond amptelik aan regmatige begunstigdes oorhandig word.
Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Mzwanele Nyhontso, sal die oorhandiging van titelaktes aan vyf gemeenskappe lei, nl die Concordia, Pella, Vioolsdrift, Leliefontein en die Tattie Newman-begunstigdes. Die seremonie vind plaas by die bekende Springbok Gasteplaas, waar 121 632 hektaar grond formeel aan die onderskeie Gemeenskaplike Eiendomsverenigings (CPA’s) toegeken sal word.
Reeds Donderdag (vandag) het die minister soortgelyke verrigtinge in Alexanderbaai gelei, waar die Richtersveld-gemeenskappe hulle titelaktes ontvang het. In totaal word sowat 610 000 hektaar grond aan inwoners van die streek teruggegee, ’n mylpaal wat as een van die grootste grondhervormings oorhandigings in die geskiedenis van Namakwa beskou kan word.
Volgens die Departement van Grondhervorming was die pad tot hierdie oomblik allesbehalwe maklik. “Daar was talle gemeenskapsvergaderings, uitgebreide regsprosesse en ’n lang reis van onderhandeling.” “Maar die regering se vasberadenheid om die onreg van die verlede reg te stel, het uiteindelik geseëvier,” het ’n woordvoerder gesê.
Minister Nyhontso het benadruk dat hierdie oorhandiging veel meer as net ’n seremoniële geleentheid is:
“Dit is ’n historiese mylpaal, ’n daad van herstel, regstelling en ware transformasie.”
Die verrigtinge sal bygewoon word deur tradisionele leiers, plaaslike en provinsiale amptenare, sowel as senior verteenwoordigers van die departement. Hierdie titelaktes is die direkte gevolg van verskeie grondeise wat deur gemeenskappe, hoofsaaklik Bruinmense wat voor 1994 van hul grond vervreem is, ingedien is.
Wat beteken ’n titelakte?
’N titelakte is ’n amptelike regsdokument wat bevestig dat ’n individu of ’n regsentiteit die wettige eienaar van ’n stuk eiendom is, soos grond of geboue. Dit gee volle regte en beskerming onder die Suid-Afrikaanse wet.