Verslaggewer – Isaac Cloete
POFADDER:- Die stof hang hoog in Pofadder waar woede oor grond nou kookpunt bereik het. Inwoners sê hulle word uitgesluit van erwe waarop hulle al jare wag, en die saak het nou selfs by die hof beland.Die Noord-Kaapse Hooggeregshof in Kimberley moes onlangs ingryp nadat ’n groep inwoners in Wyk 6 erwe begin beset het uit pure frustrasie. Die KhaiMa Munisipaliteit (KMM) het vinnig opgetree en tydelike interdikte teen 17 mense verkry – wat hulle as “grondbesetters” beskryf.
Maar inwoners sê dis niks minder as onregverdigheid nie.
Volgens Erina van Staden, ’n plaaslike aktivis, word hulle mense tweede gesit.
“Ons wag al vir twintig jaar vir huise. Ons is hier gebore, grootgeword, en nou word ons weggehou terwyl mense van buite hier kom plak. Dis onregverdig!” sê sy.
Van Staden beweer verder dat sommige van die sogenaamde “nuwe intrekkers” van die Oos-Kaap af kom en by Gamsbergmyn of die sonplase werk.
“Hulle kry voorkeur, en ons eie mense word afgeskeep,” sê sy ontsteld.
Intussen het dit uitgekom dat die munisipaliteit erwe langs die Kakamas-pad laat uitmeet en begin diens het teen groot kostes – net om later te besef dit was ’n fout. Toe plaaslike mense daar gaan plak, het die KMM sommer vinnig borde opgesit wat sê “plakkery onwettig”.
Die rede? Volgens KMM is daar glo “giftige goed” soos slange op die grond, en glo ook ’n gevaar vir vloede.
Maar dié verskoning laat inwoners lag.
“Vloede in die kurkdroë Pofadder? Dis mos belaglik,” sê ’n inwoner met ’n kopskud.
Van Staden beweer boonop dat daar korrupsie agter die skerms is.
“Ons het bewyse dat ’n land-use beampte al ’n erf vir ’n bottel whiskey van R300 verkoop het! Dis daardie selfde persoon wat nou maak dat ons nie eers ’n stukkie grond kan kry nie,” sê sy.
Intussen sê ANC-raadslid Mandi Baker sy weet van geen amptelike klagtes nie.
“Hulle het nog nooit direk met my oor hul griewe gepraat nie. Daar wás ’n gemeenskapsvergadering, maar toe gaan kla hulle eerder by die radiostasie,” sê sy.
Die waarnemende munisipale bestuurder was nie beskikbaar vir kommentaar nie.
CCN het die dokumentin besit en wag tans op amptelike kommentaar van die KhaiMa-munisipaliteit.
– CCN Online hou jou op hoogte van verdere ontwikkelings, en wag nou vir gemeenskapsreaksie op dié warm onderwerp.