“Die stelsel faal ons vroue,” sê aktivis Charmen Gribi
Verslaggewer – Felicia Jooste
ELSIESRIVIER:- Groot woede en hartseer heers ná nog ’n vrou die naweek in Elsiesrivier vermoor is.
Boonop is dit die tweede voorval van vrouemoord, in die area hierdie jaar. Die slagoffer het glo reeds ’n beskermingsbevel teen haar lewensmaat gehad, maar dit kon haar nie red nie.
Volgens Charmen Gribi, voorsitter van die Inspire Network en bekende GBV-aktivis, wys hierdie geval duidelik dat die stelsel nie genoeg doen om vroue te beskerm nie.
“Sy het alles gedoen wat die wet vereis, ’n beskermingsbevel gekry, hulp gesoek, maar tog is sy dood. Hoeveel meer moet gebeur voordat die stelsel begin werk?” vra Gribi emosioneel.
Gribi sê die Inspire Network, wat ’n GBV-hulplinie in Elsiesrivier bedryf, gaan nou nuwe opvoedings- en steungroepe begin vir vroue wat in gevaar verkeer. “Ons moet vroue bemagtig, maar ook verseker dat die beskermingsbevelstelsel werklik werk,” sê sy.
’N plaaslike inwoner, Marianne Samuels (34), het gesê: “Ons is moeg om elke paar maande nog ’n vrou se dood te betreur. Die polisie en die hof moet saamwerk, dis lewens wat verlore gaan.”
Nog ’n jong ma, Taryn Williams (28), voeg by: “Ons leef in vrees. Selfs met ’n bevel voel jy nie veilig nie. Dis tyd dat iets verander.”
Die gemeenskap en die Inspire Network doen nou ’n beroep op die owerhede om die uitvoering van beskermingsbevele dringend te hersien, en om vinniger op klagtes van huishoudelike geweld te reageer.



