Deur CCN Nuusredaksie
HOPEFIELD:- Die gemeenskap van Hopefield is in skok ná die beweerde wrede aanranding van ’n 18-jarige gestremde seun deur lede van die Hopefield Polisie gisteraand.
Volgens verskeie ooggetuies is die seun aangerand nadat hy bloot in die straat geloop het, sonder enige rede of provokasie.
’n Video en talle boodskappe oor die voorval het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. In die berigte word beweer dat beamptes die seun met traangas gespuit en hom aangerand het, terwyl mense in die omgewing geskree het: “Los hom! Hy is gestremd, hy pla niemand nie!”
Volgens Zandria Papier, wat eerste oor die voorval gepraat het, het die seun net by hul huis kom eet, soos hy dikwels doen. “Nie twee minute nadat hy uitgestap het nie, het ons gehoor mense gil buite. Toe ons uitstorm, sien ons hoe die polisie hom slaan. Hy het in trane geskree.
“Ons het gisteraand seker vyf keer Hopefield polisie geskakel om die seun huis toe te bring.” “Hulle het heeltyd verskonings gehad, en na middernag het ek ‘n plan gemaak om hom by die polisie stasie te gaan haal.” “Hy was regtig lelik aangerand, en sy oë was geswel van die traangas” het Zandria haar teleurstelling met CCN gedeel.
Volgens Zandria was hulle vanoggend by Vredenburg polisie om ‘n klagte in te dien, maar was aanbeveel om saak in Hopefield te maak. “Ons is in ‘’n sort brief deur Hopefield Polisie aanbeveel om na Vredenburg polisie te gaan.”
Lee-Ann Papier, ’n familielid van die slagoffer, sê sy is “woedend en hartseer”.
“Hy is ’n respekvolle kind wat nooit moeilikheid soek nie. Dis onaanvaarbaar dat volwassenes in uniform só met ’n gestremde jong man kan omgaan,” sê sy.
Volgens inligting wat CCN het, word daar nou al vir jare reeds verskeie klagtes teen Hopefield-polisielede ingedien oor geweld, korrupsie en wanoptrede, maar min of geen optrede het gevolg nie. Gemeenskapslede sê hulle is “gatvol” dat sulke sake onder die mat ingevee word.
In reaksie op die jongste voorval, kan Cape Coast News (CCN) bevestig dat ’n formele skrywe aan die Onafhanklike Polisiedirektoraat (IPID), die Wes-Kaapse Polisiekommissaris, en ander nasionale polisie-departemente gerig is.
Die skrywe versoek ’n onafhanklike ondersoek van buite die streek om te voorkom dat plaaslike SAPS-lede die proses beïnvloed.
“Ons kan nie langer toekyk hoe kwesbare mense mishandel word en niks gebeur nie,” het verskeie gemeenskapslede op sosiale media hul furstrasies gedeel. gesê. “Die gemeenskap het nou genoeg gehad. Daar moet reg geskied.”
Hopefield-gemeenskapslede sê dié voorval is net die jongste in ’n lang reeks klagtes oor mishandeling deur sekere beamptes. In vorige jare was daar reeds vergaderings met die NPA, Menseregtekommissie en die Minister van Gemeenskapsveiligheid, maar sonder enige noemenswaardige uitkoms.
Die seun ontvang tans mediese hulp, en gemeenskapslede oorweeg om ’n vreedsame optog te hou teen polisiewreedheid in die dorp.
Foto’s – Sosiale Media

