PA se Senior Amptenaar Vasgetrek vir Gewapende Roof
Kimberley:- Die Patriotic Alliance (PA) se reputasie het ‘n groot hou in die Noord-Kaap gekry, ná ‘n skokkende arrestasie:
Shadrack Mocholo (44), die party se Frances Baard-streeks adjunkvoorsitter, staan tereg vir sy beweerde betrokkenheid by ‘n gewapende roof by die Shoprite in Kimberley se CBD.
Op Sondag 18 Januarie 2026, omstreeks 06:00 die oggend, het vier gewapende mans die winkel bestorm. Hulle het personeel ruweg behandel, bedreig en ‘n groot bedrag kontant geroof. In die chaos is ‘n 54-jarige winkel werknemer in die hand geskiet. ‘N besering wat hom hospitaal toe gestuur het, maar hy is nou buite gevaar en herstel.
Mocholo is kort daarna in hegtenis geneem deur die polisie se ernstige en gewelddadige misdade-eenheid. Hy het op Woensdag in die Kimberley-landdroshof verskyn, op ‘n swaar Schedule 6-aanklag: roof met verswarende omstandighede. Die saak is uitgestel, en sy formele borgtogaansoek word volgende week 4 Februarie aangehoor. Ondersteuners van hom was in die hof en het volgehou: “Die waarheid sal in die hof uitkom.”
Die PA het vinnig opgetree: Volgens ‘n amptelike verklaring van die Frances Baard-streeksvoorsitter, Lezelle Jackson, is Mocholo onmiddellik op “precautionary suspension” geplaas. Dis nou hangende die volle uitslag van die polisie se ondersoek. Die party belowe volle samewerking met die SAPD en neem die saak “baie ernstig” op.
Hierdie voorval stuur skokgolwe deur die gemeenskappe, veral in ‘n tyd waar die PA hulleself as ‘n party van integriteit en misdaad bestryding positioneer. ‘N hoëprofiel-amptenaar wat self in ‘n gewelddadige roof betrokke sou wees?
Dit laat vrae hang oor leierskapkeuses op plaaslike vlak.
Ons by CCN glo in deursigtigheid en verantwoording, veral van politieke leiers wat belowe om misdaad te beveg.
Die polisie se woordvoerder, Warrant Officer Molefi Shemane, het volgens ‘n betroubare bron, bevestig die ondersoek duur voort. Ons sal enige nuwe ontwikkelinge (insluitend borgtog en moontlike party-reaksies) dadelik opvolg.
Bronne: Diamond Fields Advertiser (30 Jan 2026), Noordkaap Bulletin, en amptelike party-verklarings.
Foto: Aanlyn Media

