Verslaggewer – Isaac Cloete
SPRINGBOK:- Die eerste SOPA (Provinsiale Staatsrede) ooit, in die Nama Khoi-gebied, het Donderdag in Bergsig, Springbok, plaasgevind.
Foto: Lede van die Noordkaapse Wetgewer.
Tydens Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap se rede, was dit duidelik dat daar op vele terreine tog vordering gemaak is.
Veral in die Nama Khoi-gebied was daar die afgelope tyd nuwe hoop gevestig met die herstel en heropening van die Steinkopf kliniek teen ongeveer R12, 5 milj.
Die ander groot hoop was die opening van die moderne onkologie-eenheid by die dr Izak van Niekerk hospitaal te Springbok. Die beraamde koste was meer as R15milj wat deur Vedanta Sinkmyn geskenk was.
Volgens Saul sal die eenheid, intussen vernoem na Boeboe van Wyk, oor drie jaar omskep word in n volledige kankerhospitaal teen n koste van R60milj.
Verdere hoop waarna hy verwys het, was die Spesiale Ekonomiese Sone ( SEZ) vir Namakwa. n Inisiatief van sover soos 2024.
Teen die 2027/28 finansiële jaar sal begin word met basiese infrastruktuur-ontwikkeling. Hier sal die departement van vervoer n groot rol speel en ongeveer 2000 werksgeleenthede vir Namakwa sal hieruit voortvloei.
Saul was ook opgewonde oor die ontwikkeling by Gamsberg.
“Fase een is reeds voltooi teen n koste van R60 bilj.
“Fase twee is aan die gang en dit sluit die sinksmelter in, wat Vedanta gaan oprig.
“Ongeveer 2500 permanente en 1000 operasionele werksgeleenthede sal geskep word.”
Hy het genoem dat president Cyril Ramaphosa binnekort Namakwa gaan besoek vir die loodsing van fase drie.
Een van die grootste projekte in die Noord-Kaap is die bou en ontwikkeling van tiende hawe in SA, naamlik, Boegoebaai.
Tans is daar steeds onderhandelinge met gemeenskapsleiers en inwoners van die Richtersveld, aan wie die grondgebied, waar die hawe gebou moet word.
Saul het gesê:
“Die Noord-Kaapse wetgewer versoek hierdie leiers om die lewe vir ons makliker te maak sodat die massiewe projek kan voortgaan.”
Hy het ten slotte die inwoners van die Kamiesberg verseker dat biljoene rande beskikbaar gemaak gaan word om die Vaalputs kern-afvalterrein veiliger te maak vir die bekommerde inwoners hier.
Die voormalige premier van die Noord-Kaap, Sylvia Lukas was ook teenwoordig, behalwe die vele senior amptenare van verskeie munispaliteite, departemente, politici en tradisionele leiers, ens.
Van die belangrike gaste van die nasionale regering was Gwede Mantashe en Alvin Botes. Selfs van die buiteland was regeringsverteenwoordigers van Namibië, Angola en Zimbabwe.
Behalwe hoop was dit dat die plaaslik sake lui en van die inwoners tog finansieel gebaat het. Veral diegene in die gastehuis- of vervoerbedryf, spyseniering, salonne, skole, sekuriteit en die kunstenaars.
Dit was n peperduur, maar historiese geleentheid vol swier en vlam. Een van klere, kleure, kos, drinkgoed, musiek, danses en selfs indrukwekkende polisie-perde en hul ruiters.
En natuurlik hoop wat niemand kan sien of voel nie…


