Kla oor onbillike praktyke by kreeffabrieke
Paternoster se vissergemeenskap verkeer tans in groot nood weens uitdagings wat hulle tydens die kreefseisoen ondervind. Volgens vissermanne in die gemeenskap, word hulle gekonfronteer met onbillike en onvoorspelbare werksomstandighede wat hul inkomste en lewensbestaan ernstig raak.
Die twee kreeffabrieke in die dorp, Co-op en Jordaan Vissery, word daarvan beskuldig dat hulle willekeurig besluit wanneer om kreef by die vissermanne af te laai en van wie hulle kreef wil koop. Dit skep ‘n atmosfeer van onsekerheid en ekonomiese druk vir die vissermanne en hul gesinne.
Volgens ‘n plaaslike visserman: “Ons het geen skaal nie. Daar is geen deursigtige manier om te weet hoeveel ons kreef werd is nie. Dit was die ergste seisoen nog – nie omdat daar ‘n tekort aan kreef is nie, maar as gevolg van swak bestuur deur die fabriekseienaars. Ons is net minder as 30 keer see toe in vier maande, en die seisoen is amper verby.”
Die onstabiliteit en inkonsekwente bedryf van die fabrieke het ‘n groot impak op die gemeenskap se finansiële sekuriteit. Die vissermanne beklemtoon dat hulle in die verlede elke dag ‘n skaal gehad het om hulle kreef te weeg en pryse te bepaal. Oor die afgelope vier jaar het hierdie stelsel egter drasties verswak.
“Ons vissermanne kry swaar,” sê ‘n ander visser. “Ons kyk hoe die kilos kreef gevang word, maar omdat die fabrieke nie laai nie, verloor ons ons inkomste. Ons kan nie meer vir die winter spaar nie.”
Die gemeenskap doen nou ‘n beroep op die fabrieke om alternatiewe markte en vennootskappe te ondersoek sodat hulle ‘n meer volhoubare inkomste kan verdien. Hulle versoek dat daar ‘n vergadering met die betrokkenes gereël word om ‘n oplossing te vind. Intussen word vissermanne gewaarsku om nie weer by hierdie fabrieke te teken sonder ‘n duidelike en regverdige ooreenkoms nie.
Hierdie oproep tot aksie weerspieël ‘n groeiende frustrasie in die Paternoster-gemeenskap, en vissermanne hoop dat daar dringend verandering sal plaasvind om hul toekoms te beskerm.
Vissermanne en betrokke partye word genooi om kommentaar te lewer op hierdie situasie en moontlike oplossings voor te stel.
Kommentaar kan ook gestuur word via “Contact Us”