Middelpos en die Pragmatiek van Politieke Aandag
SALDANHABAAI:- Vandag is daar ‘n tussenverkiesing in Middelpos, ‘n informele nedersetting aan die buitewyke van Saldanhabaai. Hierdie klein gemeenskap was tot onlangs toe skaars bekend buite sy eie grense, totdat Joshlin Smith se verdwyning nasionale opslae gemaak het.
Nou staan alle groot politieke partye in die ry vir ‘n kans om beheer te neem van ‘n gemeenskap wat voorheen vir hulle onsigbaar was. Maar die vraag bly – sou Middelpos ooit soveel aandag gekry het as Joshlin nie verdwyn het nie?
Die Tragiese Bekendheid van Middelpos
Voordat Joshlin verdwyn het, was Middelpos ‘n plek wat min mense buite Saldanhabaai regtig geken het. Nou, maande later, weet almal van hierdie eens vergete buurt, nie weens ontwikkelingsprojekte of suksesverhale nie, maar omdat ‘n sesjarige dogtertjie vermis geraak het en haar eie ma, Kelly Smith, daarvan beskuldig word dat sy haar aan ‘n sangoma verkoop het vir R20 000.
Dit is ‘n skokkende storie, maar daar is ‘n dieper realiteit hier: sou hierdie tragiese gebeurtenis ooit gebeur het as Kelly en haar kinders in ‘n ander omgewing gewoon het? As hulle in ‘n beter woonbuurt was, sou die gemeenskap, die polisie, en selfs die media vinniger en meer effektief opgetree het?
Dis nie ‘n verskoning vir wat met Joshlin gebeur het nie, maar dit is ‘n ongemaklike waarheid: mense in armoedige woonbuurte se lewens het minder waarde in die oë van die samelewing. Hulle verdwyn makliker. Hulle word makliker vergeet.
Politieke Aandag – Maar Vir Hoe Lank?
Nou, tydens die tussenverkiesing, is Middelpos ‘n strydgrond vir politieke partye. Die ANC, EFF, DA, GOOD, PA en selfs Jacob Zuma se MK-party neem deel, almal gretig om ‘n gemeenskap te verteenwoordig wat voorheen buite hul radar was. Dit is ironies en hartseer: sou hierdie verkiesing ooit soveel opslae gemaak het as Joshlin nie verdwyn het nie?
Ons sien hierdie patroon oor en oor: gemeenskappe wat vir dekades sukkel sonder basiese dienste, geen parkies vir kinders, net rommelhope en stukkende beloftes. Maar sodra ‘n tragedie opslae maak, stroom politici in, hou vergaderings, belowe verandering – en dan, soos die nuus oor Joshlin begin vervaag, verdwyn hulle weer.
Die Vergete Suid-Afrika
Middelpos is nie die enigste plek wat net in tye van krisis raakgesien word nie. Reg oor Suid-Afrika is daar talle plakkerskampe en verarmde gemeenskappe waar mense elke dag sukkel om te oorleef. En tog, totdat daar ‘n skandaal, ‘n tragedie, of ‘n politieke geleentheid is, bly hierdie plekke onsigbaar.
Hoe lank gaan dit nog vat voordat ‘n mens nie eers meer ‘n tragedie nodig het om sigbaar te wees nie? Wanneer gaan mense in sulke gemeenskappe begin voel dat hulle ook iets beteken, dat hulle ook geregtig is op ‘n veilige, waardige lewe?
Vandag word daar in Middelpos gestem. Maar môre , wanneer die stemme getel is en die kameras weg is, gaan enige iets regtig verander?

