Berig – Isaac Cloete
Okiep:- Verlede Saterdag het ‘n ANC-LUR besluit om Menseregtedag met ‘n politieke kwas te verf.
Die Noord-Kaapse Provinsiale Menseregtedag-vieringe het in Okiep, naby Springbok, plaasgevind. Volgens Tebogo Monya, media- en skakelbeampte vir Bentley Vass, LUR vir Samewerkende Regering (COGHSTA), was die amptelike tema:
“Versterking van ‘n kultuur van maatskaplike geregtigheid en menseregte.”
Tydens sy toespraak het Vass egter besluit om die geleentheid te gebruik vir politieke gewin. Hy het beklemtoon dat hy ‘n lid van die ANC is, en het sommer ook die ANC se kandidaat vir die komende tussenverkiesing aan die hoofsaaklik ANC- gehoor voorgestel.
Die tussenverkiesing in Okiep word gehou omdat die ANC-raadslid van wyk 6 onlangs bedank het. Vass het hard na die stemme gevry, eerder as om sy toespraak te wy aan die betekenis van Menseregtedag.
Hy het verklaar:
“Ons het ‘n kandidaat hier wat ons in die tussenverkiesing later die jaar gaan verteenwoordig, en ons hoop en weet dat ons mense vir hom gaan stem. Alle sterkte aan ons kameraad.”
Hy het ook bygevoeg:
“Die regering van die dag is besig om die witskrif oor plaaslike regering te hersien, sodat munisipaliteite beter dienste kan lewer.”
Volgens inwoners was die verrigtinge maar swak bygewoon, deels weens die koue weer en die langnaweek, maar veral as gevolg van die afname in steun vir die ANC oor die afgelope dekade.
Vass het wel verwys na ‘n opgradering van die kanker- eenheid by die Springbok-hospitaal ter waarde van sowat R22 miljoen. Dit is egter ‘n samewerking met die Vedanta-sinkmyngroep op Aggeneys en nie ‘n uitsluitlike staatsprojek nie. Hy het nie vermeld hoeveel die staat self bydra nie, indien enigsins.
Politieke Reaksies
Rodney Kritzinger, DA-raadslid en burgemeester van die Nama Khoi-munisipaliteit, was glad nie beïndruk met Vass se “verfkwas-toespraak” nie.
“Die ANC weet steeds nie hoe om die staat en die party van mekaar te skei tydens sulke funksies nie”. “Menseregtedag in Okiep was ‘n regeringsgeleentheid, nie ‘n ANC-byeenkoms nie.” Weereens is staatsfondse misbruik vir verkiesingsdoeleindes.” “Dit laat ‘n mens wonder oor hoeveel die geleentheid gekos het,” het Kritzinger gesê.
Hy het verder uitgewys dat dieselfde ANC- regering sowat R9 miljoen, wat vir sportgronde in Springbok bestem was, teruggehou het en eerder in die Richtersveld bestee het.
Sammy Claassen, party verteenwoordiger van die Patriotic Alliance (PA), het die ANC ook skerp gekritiseer.
“Die ANC het die mense van Namakwaland verraai. Die agteruitgang op munisipale vlak is ‘n direkte gevolg van hul swak dienslewering oor jare.” “Dit is juis waarom ‘n ANC-raadslid hier bedank het, en by ons aangesluit het. ” “ Tydens die tussenverkiesing op 14 Mei gaan die mense hul mag terugvat, deur die skelms uit en buite te hou,” het Claassen gesê.
‘n Gebroke Gemeenskap se Verwagtinge
Baie Namakwalanders het Vass se toespraak met ‘n knippie sout geneem. Hulle het gehoop dat hy eerder honderde huissleutels sou saambring, sodat inwoners uiteindelik hul beloofde huise kon betrek. Volgens vroeëre aankondigings, sou die bou van sowat 800 huise in die Namakwa-streek op 1 April 2024 begin. Tog weet niemand of daar enige huise opgerig gaan word, of waar presies dit sou plaasvind nie.
Inwoners is veral woedend oor die haglike toestand van gesondheids- en ambulansdienste. Een inwoner het vertel hoe sy bejaarde, siek suster vir ure by die Springbok-hospitaal moes wag vir behandeling.
“Naweke is daar geen dokters beskikbaar nie, en sekuriteitswagte besluit of jy siek genoeg is om hulp te ontvang.” “Indien jy wel in die hospitaal toegelaat word, moet ‘n suster eers die dokter bel en jou toestand verduidelik, voordat hy bereid is om te kom.”
Dis in sulke omstandighede wanneer inwoners wonder of hulle regte net op papier bestaan, en of gemeenskappe ooit werklik deur die regering beskerm word.