Velddrif:- Die Bergrivier-Kano-marathon het Saterdag sy dramatiese hoogtepunt bereik toe die legendariese Hank McGregor (47) weer eens gewys het waarom hy as ‘n ware meester van die water beskou word.
Jenna Nisbet eindig eerste in vroue wedloop
McGregor het saam met sy spanmaat, Siseko Ntondini, oor die eindstreep in Velddrif gejaag en sodoende sy 14de oorwinning in dié ikoniese vierdaagse resies ingepalm.
Met sy oorwinning bou McGregor voort aan ‘n ongelooflike rekord, 14 oorwinnings in 17 deelnames sedert hy die eerste keer in 2000 die resies gewen het. Maar selfs na al die jare oorweeg hy steeds elke jaar of hy gaan terugkeer: “Ek sê elke jaar ek sal dalk nie weer ry nie, maar nou is dit tyd vir ‘n glas goeie rooiwyn,” het hy met ‘n breë glimlag gesê.
Ervare veterane wys hul staal
Die tweede plek is losgemaak deur die 53-jarige Robbie Herreveld, wat slegs 24 sekondes voor Ntondini oor die eindstreep gekom het. Dié prestasie is besonders as ‘n mens in ag neem dat die gekombineerde ouderdom van die voorste twee paddelaars ‘n merkwaardige 100 jaar is!
Herreveld, ‘n sesmalige vorige wenner van die marathon, het die hele pad vir McGregor en Ntondini gejaag, maar erken dat ouderdom sy tol begin eis: “Hulle het my by die portage (dra-traject) losgeslaan, ou manne kan nie meer hardloop nie. “Ek het probeer bykom, maar kon hulle net nie vang nie,” het hy met ‘n lag gesê.
Ntondini, McGregor se spanmaat van Euro Steel, het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor McGregor wat hom die hele pad ondersteun het, en het Herreveld geloof vir sy vasberadenheid: “Hy het regtig gehou tot die einde toe.”
Vrouewedloop: Jenna hou kop bo water
By die vroue het die KwaZulu-Natalse Jenna Nisbett haar merk gemaak deur haar derde Bergrivier-oorwinning in vyf deelnames te behaal. Sy het die resies met ses minute gewen voor Oos-Londen se Nix Birkett, wat die eerste en laaste dag se wedrenne gewen het.
“Ek is absoluut uitgeteer,” het Nisbett ná afloop van die resies vertel. “Die wind op die laaste stuk het dit baie moeilik gemaak, maar wat sou die Berg wees sonder die wind?”
Birkett het ná ‘n paar stoot-en-stamp oomblikke tussen ‘n groep manlike paddelaars weggebreek, maar kon uiteindelik nie by Nisbett kers vashou nie. “Ek is steeds ongelooflik bly oor my tweede plek,” het sy gesê.
In die derde plek het die 19-jarige Neriyah Dill klaargemaak, haar heel eerste Bergrivier-marathon, en ‘n uitstekende begin vir haar jong loopbaan.
Oom Jannie skryf geskiedenis
Agter die voorste groep was daar egter nóg groter stories van uithouvermoë en vasberadenheid. Niemand minder nie as Oom Jannie Malherbe het sy 52ste Bergrivier-marathon voltooi. Die nou 83-jarige Malherbe, wat die wedren reeds in 1963, 1964 en 1965 gewen het, hou nou die ongelooflike rekord van die meeste voltooiings in die geskiedenis van die resies, met 52 uit die 63 wat al plaasgevind het.
Ander noemenswaardige prestasies sluit in Lisa Scott, wat haar 15de marathon voltooi het en nou die vrou met die meeste Bergrivier-voltooiings is, en Carel Botha, wat binne een maand die Comrades Marathon, die Freedom Challenge (non-stop bergfietsresies van Pietermaritzburg na Paarl) én die Bergrivier-marathon voltooi het. ‘n Prestasie wat werklik net vir die taaiste atlete beskore is.
Uitslae
Mans:
- Hank McGregor – 16:02:04
- Robert Herreveld – 16:12:57
- Siseko Ntondini – 16:13:21
Vroue:
- Jenna Nisbett – 17:33:49
- Nix Birkett – 17:39:44
- Neriyah Dill – 17:45:29
“Op die Berg is elke deelnemer ‘n wenner,” het Nisbett mooi saamgevat , en met die koue, wind en uitdagende trajekte wat deelnemers jaar ná jaar teruglok, is dit duidelik dié resies bly een van Suid-Afrika se trotsste sportgeleenthede. Hierdie jaar het 73 deelnemers in die koue rëenweer en winde deurgemaak en oor die eindstreep gevaar.
_- Cape Coast News Verslaggewing.

