Twee dood, een gewond, en die regering bly stil
Berig:- George April
Athlone:- Nog ‘n hardcore misdaad ruk handuit op die Kaapse Vlakte, en die strafproses lyk al hoe meer soos ‘n flou grappie.
Wanneer gaan die regering uiteindelik die realiteit besef en daadwerklik optree?
’n Nuwe vlaag van bendegeweld het hierdie week in Vygieskraal, Athlone uitgebreek, waar spanning tussen die Fancy Boys en die Junky Funky Kids (JFK) bendes in ‘n bloedbad ontaard het.
Volgens polisiewoordvoerder Sersant Zita Norman is twee mense dood en een gewond sedert Woensdag. Die eerste voorval het in die Vygieskraal informele nedersetting plaasgevind waar ’n 25-jarige man, vermoedelik ’n lid van die Fancy Boys, doodgeskiet is.
Net die volgende oggend is die liggaam van ’n 35-jarige man met veelvuldige skietwonde op Canalweg gevind. Die toneel het oorblyfsels van geweld agtergelaat – 70 patrone en drie lewendige rondes is deur die polisie opgetel.
In ’n aparte voorval is nóg ’n 25-jarige man buite ’n huis in Pearl Crescent aangetref. Hy was in sy been en arm geskiet en na die hospitaal geneem. Twee huise is ook deur skote getref toe gewapende mans glo op soek was na teenstanders.
Stadsraadslid Aslam Cassiem het bevestig dat hy in gesprek is met SAPD en dat ’n addisionele intelligensie-eenheid ontplooi is in die area. Wetstoepassers het begin met sigbare patrollies en ondersoeke is aan die gang.
Maar vir baie inwoners is dit te min, te laat. Gemeenskappe word vasgevang tussen koeëls en beloftes, en intussen faal die geregstelsel daagliks hulle wat beskerming die meeste nodig het.
Wanneer gaan die regering wakker skrik en die oorlog in ons strate ernstig opneem?



