Beweerde misbruik van noodvoertuig ontbloot
Berig – Isaac Cloete
BRANDVLEI, NOORD-KAAP – ‘n Ambulans van die Abraham Esau Hospitaal in Calvinia het Woensdagaand naby Brandvlei van die pad afgegaan, wat vrae laat ontstaan oor die gebruik van die voertuig en die gedrag van die bestuurder.
Volgens plaaslike bronne het die ambulans glo ‘n groep van sowat agt tot tien mense vervoer, waarvan verskeie as rylopers by ‘n plaaslike vulstasie opgetel is. Die voertuig was op pad terug na Brandvlei ná ‘n reis na Calvinia waar die insittendes glo inkopies gaan doen het.
’n Plaaslike joernalis het bevestig dat sommige van die sogenaamde “pasiënte” in werklikheid nie mediese hulp benodig het nie, maar eerder passasiers was wat vir hul plek in die ambulans betaal het. “Ek het gehoor hulle moes elk betaal vir vervoer.
Dit blyk dat hierdie praktyk nie ongewoon is nie,” het hy gesê.
’n Inwoner van Brandvlei, wat verkies het om anoniem te bly, het gesê: “Dieselfde ambulans was sowat twee weke gelede betrokke in ’n ander voorval waar dit in ’n waterstroompie vasgesit he, glo weens foutiewe remme. Nou hoor ons dat die stuurwiel glo ‘gelock’ het, wat ongewoon is vir ’n voertuig met handratte.”
Volgens bronne aan die gemeenskap was twee swanger vroue aan boord van die ambulans ten tyde van die ongeluk, asook ’n bekende en omstrede geldskieter van Brandvlei, wat reeds in die hof skuldig bevind is aan oortredings.
Daar is berig dat hy aan diabetes ly en vermoedelik aan die slaap geraak het tydens die rit.
Hoewel niemand in die ongeluk gesterf het nie, het verskeie insittendes beserings opgedoen en moes hulle terug na Calvinia vervoer word vir verdere mediese behandeling.
Inwoners van Brandvlei is woedend oor die voorval en eis dat die ambulansbestuurder aanspreeklik gehou word. Daar is toenemende bewerings dat ambulanse gereeld vir nie-mediese doeleindes gebruik word, dat rylopers daarvoor moet betaal, en dat die bestuurders nie altyd aan verkeersreëls voldoen nie, en soms roekeloos bestuur.
In Mei vanjaar het die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid aangekondig dat 22 nuwe ambulanse, teen ’n koste van byna R80 miljoen, aan dorpe in die vyf distrikte versprei is. Tog bly die diens week ná week in die nuus vir verkeerde redes.
Die departement se woordvoerders, Lebogang Majaha en Lulu Mxekezo, is vir kommentaar genader, maar het teen druktyd nog nie gereageer nie.