Meer as 400 liter drank gekonfiskeer.
Verslaggewer -George April
Die polisie se volgehoue pogings om misdaad in die Tuinroete-distrik hok te slaan, het goeie vrugte afgewerp toe ses onwettige drankverkope gesluit is en meer as 414 liter drank gekonfiskeer is.
Op Vrydag, 1 Augustus 2025 omstreeks 12:00 het lede van die Kwanonqaba-polisie, gewapen met ’n deursoekings lasbrief, toegeslaan op ’n woning in Fikilestraat, Asla Park, na inligting van die gemeenskap ontvang is. Die perseel het as ’n onwettige shebeen gefunksioneer. Tydens die deursoeking is 48,75 liter drank ontdek en onmiddellik gekonfiskeer. ’n 28-jarige man is in hegtenis geneem op ’n aanklag van die verkoop van drank sonder ’n lisensie.
Later dieselfde dag het lede van die Plettenbergbaai Misdaadvoorkomingseenheid ’n operasie uitgevoer in Bloekomstraat, The Crags, net buite Plettenbergbaai. Daar is verskeie dranksoorte gevind wat altesaam 271 liter beloop. ’n 42-jarige vrou is in hegtenis geneem en sal ook aangekla word van onwettige drankverkope.
Soortgelyke operasies is ook in Oudtshoorn en Kwanokuthula uitgevoer, waar kleiner hoeveelhede drank gekonfiskeer is.
Al die verdagtes sal in die hof verskyn sodra formele klagte teen hulle aanhangig gemaak is.
Hierdie operasies vorm deel van die polisie se aanhoudende pogings om alkoholmisbruik uit te roei en gemeenskappe veiliger te maak. Die fokus op onwettige drankverkope vorm ’n kernaspek van “Operasie Basadi”, wat landswyd uitgebrei word gedurende Vrouemaand.



