VIR VERKRAGTING
Verslaggewer – Isaac Cloete
Springbok:- Die Namakwa-distrikskommissaris, brigadier Schalk Andrews, het die vonnis van ’n 37-jarige man deur die Fraserburg Streekhof verwelkom, nadat hy op 3 September 2025 skuldig bevind is aan vier aanklagte van verkragting.
Die hof het bevind dat die beskuldigde, wat as ’n prediker in sy kerk gedien het, sy 13-jarige stiefdogter herhaaldelik tussen 2017 en 2019 seksueel misbruik het. Hy is gevolglik tot vier lewenslange gevangenisstraf gevonnis.
Volgens getuienis het die misbruik reeds begin toe die slagoffer net 10 jaar oud was. Die beskuldigde het haar met dreigemente stilgemaak en gesê hy sou haar van haar ma skei indien sy die voorvalle openbaar. Op die ouderdom van 13 het die kind swanger geraak weens die voortdurende misbruik.
Ten spyte daarvan dat die beskuldigde aanvanklik onskuldig gepleit en vier regsverteenwoordigers gedurende die verhoor afgedank het, het die oorweldigende getuienis tot sy skuldigbevinding gelei. Sy aansoek om borgtog is teengestaan en van die hand gewys.
Brigadier Andrews sê die vonnis is ’n duidelike boodskap dat dade van hierdie aard nie geduld sal word nie en dat misdadigers die volle gevolge van die reg sal dra. Hy het aanklaer Derel Bromkamp en speurder konstabel Anthony Willemse geloof vir hul toewyding en professionaliteit, asook die jong oorlewende se moed en die getuies wat bereid was om te kom getuig.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens, in samewerking met die Nasionale Vervolgingsgesag, beklemtoon dat sake van geweld en misbruik teen vroue en kinders steeds ’n prioriteit bly.
Navrae:
Kaptein Ivan Magerman
Hoof: Korporatiewe Kommunikasie, SAPD Namakwa-distrik
083 478 9317
MagermanIC@saps.gov.za
Foto -:Konstabel Anthony Willemse & Derel Bromkamp