Berig – George April
PATERNOSTER:- ’N ontspannende dag van visvang het Dinsdag in tragedie geëindig toe ’n jong paartjie, JP Louw (26) en Danielle “Dani” van Wyk (25), deur ’n fratsbrander by Tietiesbaai naby Paternoster van die rotse afgeslaan is.
Volgens inligting wat aan CCN bevestig is, het die twee die oggend vroeg aan die kuslyn visgevang toe ’n skielike brander hulle oorrompel het en in die ysige water ingetrek het.
Louw het glo alles in sy vermoë gedoen om by sy vriendin uit te kom, maar die sterk seestrome het hom al verder weggesleur. Hy is later uitgeput, met sny- en skaafmerke, deur omstanders aan wal gehelp en na die hospitaal geneem.
Die NSRI-stasies van St Helena Bay en Mykonos het onmiddellik op die toneel gereageer en saam met ander nooddienste die gebied met bote, ’n helikopter en ’n hommeltuig deursoek.
Danielle se liggaam is later in die water opgespoor.
’n Geregtelike doodsondersoek is geopen.
’n Kollega van Louw het op sosiale media geskryf dat hy “alles gedoen het om haar te red” en dat hy diep getraumatiseer is oor die voorval.
Die berig het groot skok veroorsaak in Paarl en omliggende gemeenskappe, waar Van Wyk glo vandaan gekom het. ’n Foto van haar is kortliks in Paarl Post se berig oor die voorval gedeel voordat dit later van hul blad verwyder is.
’n Vriendin het op Facebook hul pynlike verlies só beskryf:
“Sy was ’n sagte, liefdevolle mens. Hulle het saam by hul gunstelingplek gewees, die see wat hulle so liefgehad het. Nou rus sy by die Here, en hy sal altyd onthou dat hy vir haar geveg het.”
Die polisie waarsku strandgangers en hengelaars om altyd versigtig te wees vir onvoorsiene branders en sterk seestrome, selfs op dae wat die see kalm lyk.