In Bishop Lavis en Ravensmead
Deur CCN Nuusverslaggewer
Kaapstad:- Polisiebeamptes van die Public Order Police (POP) wat in die Bishop Lavis-omgewing ontplooi is om bendeverwante skietvoorvalle te bekamp, het Woensdag vroegoggend ‘n verdagte in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen.Volgens inligting was lede besig met ‘n stop-en-deursoek-operasie in Bonteheuwel, toe hulle twee mans op die pad opmerk. By die sien van die polisievoertuie het die mans probeer vlug. Beamptes het egter vinnig opgetree en tydens die deursoeking is een van die verdagtes met ‘n .38 Special-rewolwer betrap, terwyl die ander vyf patrone by hom gehad het.
Beide verdagtes staar aanklagte van onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie in die gesig.
In ‘n afsonderlike voorval het lede van die Anti-Gang Unit twee persele in Eureka Estate, Ravensmead, deursoek. Tydens dié operasie is ‘n .38 Special-rewolwer sonder ‘n reeksnommer met vier patrone, asook ‘n 9mm-pistool sonder ‘n reeksnommer met tien patrone, op die onderskeie persele gevind. Twee volwasse mans is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Al die verdagtes sal binnekort in die landdroshowe van Bishop Lavis en Goodwood verskyn sodra hulle formeel aangekla is. Die Wes-Kaapse polisie het hul voorneme herhaal om vuurwapens van die strate te hou en om voort te gaan met gestruktureerde operasies teen bendeverwante misdaad.
#gunsoffthestreets
(Bron: SAPS)