Verslaggewer – Isaac Cloete
Springbok:- ’N groot wolk van hartseer hang oor Kleinzee en omliggende dorpe nadat die geliefde mynbestuurder, Johan van Rooyen, Saterdagaand tragies in ’n motorongeluk gesterf het.
Van Rooyen, wat by Holgoun Mining in Kleinzee gewerk het, is dood toe die bakkie waarin hy saam met sy vriendin, Clarissa Crafford, gery het, van die Eselsfonteinpad tussen Springbok en Buffelsrivier afgegly en in ’n kloof beland het. Kort daarna het die voertuig aan die brand geslaan.
Volgens ooggetuies wat kort ná die ongeluk op die toneel aangekom het, was die vlamme intens. “Daar was twee harde ontploffings hoorbaar voordat die voertuig begin brand het,” het ’n plaasbewoner aan CCN gesê.
Die forensiese-eenheid, polisie en paramedici was vinnig op die toneel, maar kon niks meer vir Van Rooyen doen nie. Crafford, wat vermoedelik bestuur het, is in ’n ernstige toestand na die hospitaal geneem.
Motoriste meen dat die lae sonlig moontlik haar sig belemmer het, wat veroorsaak het dat die voertuig beheer verloor het.
Oud-DA LP en Holgoun Mining-vennoot, Veronica van Dyk, het haar diepe skok en meegevoel uitgespreek:
“Johan was nie net ’n bestuurder nie, hy was ’n mens van karakter, respek en passie vir die gemeenskap. Sy dood is ’n reuse verlies vir ons almal.”
’’N leier met ’n sagte hart
Kolleeg Tommy Diergaardt het Van Rooyen as ’n voorbeeldige leier beskryf:
“Hy het altyd met respek gepraat, teenoor almal, van werkers tot bestuur. Hy het geluister, gelei, en mense gemotiveer. ” Ons gaan hom bitterlik mis.”
Volgens vriende en kollegas was Johan bekend vir sy beskeidenheid, empatie en liefde vir mense.
“Hy het nooit sy stem verhef nie, hy het eerder oplossings gesoek. Hy was die soort bestuurder wat sy werkers se name geken het,” het ’n mynwerker aan CCN vertel.
Hoop vir Namakwaland
Holgoun Mining, waar Van Rooyen ’n leidende rol gespeel het, het onlangs begin met diamant ontginning uit die ou De Beers-myngebiede. Die projek het nuwe hoop gebring vir werkskepping en ekonomiese groei in die streek.
Nou, sê inwoners, sal sy nalatenskap voortleef in dié droom van beter dae vir Namakwaland.
“Hy het geglo in mense en in die toekoms van Kleinzee,” het ’n plaaslike inwoner afsluitend gesê. “Dis hoe ons hom sal onthou.”

