CCNuus
PIKETBERG:- Die waaksaamheid van lede verbonde aan Piketberg SAPS het gelei tot die inhegtenisneming van twee mans, onderskeidelik 39 en 47 jaar oud, op aanklag van dwelmhandel.
Op Dinsdag, 27 Januarie 2026, omstreeks 04:35, was polisielede besig met sigbare polisiëringspatrollies in Piketberg toe hulle ‘n verdagte voertuig opgemerk het.
Toe die bestuurder besef het dat die polisie hom agtervolg, het hy ‘n swart sak by die venster uitgesmyt. Die lede het egter nie opgegee nie en die agtervolging voortgesit totdat die verdagte uiteindelik vasgetrek en in hegtenis geneem is.
By die deursoeking van die swart sak is “5 990 Mandrax-tablette” gevind.
Die 47-jarige verdagte is in hegtenis geneem. Verdere ondersoek het die lede na ‘n adres in Piketberg gelei. Tydens ‘n deursoeking van die perseel is nog “741 Mandrax-tablette” en “820 sakkies tik” gevind.
‘n 39-jarige man is op die perseel in hegtenis geneem op aanklag van dwelmhandel.
Beide verdagtes het vandag, 28 Januarie 2026, in die Piketberg Landdroshof verskyn op die betrokke aanklagte.
#DrugsOffTheStreets – Die SAPS se onwrikbare verbintenis tot die verwydering van dwelms van ons strate bly staan. Gemeenskappe word aangemoedig om inligting anoniem te deel via die SAPS-kontaklyn of die MySAPS-app om sulke aktiwiteite te help stop.

