CCN Verslaggewer – George April
Phillippi:- Elf vroeë kinderontwikkelingsentrums (ECD-sentrums) in Philippi staan op die rand van permanente sluiting, weens genadelose afpersing deur kriminele bendes.
Die bendes eis “beskermingsfooie” van tussen R5 000 en R10 000 per sentrum, bedrae wat doelbewus bereken word volgens die grootte van die sentrum, die aantal ingeskrewe kinders en selfs hoe die fasiliteit lyk.
Volgens Makhosazana Padi, ECD-koördineerder by die South African Education Project (SAEP), het die bendes principals direk genader en spesiale vergaderings belê. “Hulle het sentrums genader en duidelik gemaak wat hulle verwag en hoeveel betaal moet word,” sê Padi. “Sommige principals het gevoel hulle het geen keuse nie en moes betaal, terwyl ander geweier of die vergaderings heeltemal vermy het. Die bedrae is bereken op grond van die grootte van die sentrum, die aantal kinders en selfs die voorkoms van die fasiliteit. Dit wys dat die eise doelbewus en geteiken is.”
Voordat die sentrums moes toemaak, was die daaglikse werking al erg ontwrig: personeel is bedags beroof van hul persoonlike besittings, en snags is daar ingebreek en leer-materiaal, speelgoed en toerusting gesteel. Principals moes later hul leer-materiaal by hul huise bêre om verdere diefstal te voorkom. Die vrees is so groot dat sommige opvoeders reeds bedank het, hulle voel nie meer veilig nie.
Die gevolge vir die kinders is verwoestend: honderde kleintjies het nou geen toegang tot veilige leeromgewings, daaglikse maaltye of die nodige vroeg-kindersteun nie. Oorblywende sentrums sukkel met oorbevolking en personeeltekorte, terwyl ouers desperaat is. Ouer sibbe moet nou jonger boeties en sussies by die huis oppas, terwyl ma en pa werk.
SAEP, wat die sentrums grootliks befonds, het die krisis reeds by die Departement van Basiese Onderwys aangemeld. “Wat nodig is, is sterk, sigbare wetstoepassing, gemeenskaps veiligheids partnerskappe en onmiddellike regering-ingryping,” pleit Padi. “Sonder dit kan hierdie lewensbelangrike ruimtes vir kinders eenvoudig nie funksioneer nie.”
Die polisie het nog nie op navrae gereageer nie, en daar is tot dusver geen teken van arrestasies of beskerming nie.
Hierdie uitpersingskrisis is nie net ’n aanval op skole nie, dit steel kinderjare, vernietig gemeenskappe en laat ouers en opvoeders magteloos. SAEP ondersteun steeds die sentrums met opleidingsprogramme en hoop om hulle weer oop te kry, maar sonder dringende aksie van die owerhede kan hulle nie voortgaan nie.
CCN-lesers, as julle in Philippi of die omgewing is: rapporteer enige uitpersing onmiddellik by die polisie. Ons roep ook die Wes-Kaapse regering, SAPD en die Departement van Basiese Onderwys op om NOU in te gryp, voor nog meer kleintjies se toekoms in die gedrang kom.
#PhilippiECD #AfpersingKrisis #SAEP #Kinderbeskerming #WesternCapeNews #CCN


