Hoekom help die maatskappye nie met vervoer nie?”
CCN Verslaggewer – George April
Hopefield:- Met die verwagte skerp styging in petrol- en dieselpryse vanaf 1 April, word die druk op Hopefield se gesinne al hoe swaarder.
Ouers wat reeds maandeliks R1 350 aan skoolvervoer na Moorreesburg en Vredenburg bestee, vra nou hardop: “Waarom kan ons nie die plaaslike maatskappye Kropz (Elandsfontein-fosfaatmyn) en Umoya (windplaas) konfronteer om met vervoerkoste te help nie?
Albei maatskappye het duidelike sosiale verpligtinge (Corporate Social Responsibility en Social and Labour Plans) teenoor die gemeenskap waarin hulle opereer. Kropz ondersteun reeds onderwysprojekte by Hoërskool Hopefield se primêre skool en vroeë kinderontwikkeling-sentrums, terwyl Umoya deur die jare programme vir behuising verbetering, vaardigheids ontwikkeling en welstand in Hopefield befonds het.
Tog voel baie inwoners dat daar min konkrete hulp kom by die daaglikse stryd met skoolvervoer.
“Ons het ’n hoërskool reg op die dorp, maar plaaslike kinders kry nie plek nie terwyl kinders van ander dorpe aangery word,” sê ouers. “Selfs kinders wat binne hoorafstand bly, word geweier. Die Departement weier vervoer omdat daar ’n plaaslike skool is. Nou gaan die petrolprys styg en taxi-tariewe gaan saam. Hoekom kan Kropz en Umoya nie help om vervoer te befonds of te onderhandel nie?
Hulle het ’n verpligting teenoor ons.”
Die frustrasie word vererger deur die behuisingskrisis. Die Wes-Kaapse provinsiale regering het aan CCN bevestig dat Hopefield nie op die huidige waglys vir behuising is nie. Baie gesinne woon in oorbevolkte of swak toestande, terwyl werkloosheid hoog bly, selfs met die Elandsfontein-myn op die dorp se grond.
Ouers wys ook op die ironie: “Matriek is ’n vereiste om selfs as gewone werker by die myn te werk . As ons kinders nie skool toe kan kom nie, waar gaan hulle eendag werk kry? Die solarplaas wat beoog word, gaan dalk werk skep, maar sonder matriek bly ons kinders vasgevang.”
Waarskuwing: Moenie uit desperaatheid na cash loans hardloop nie
Finansiële adviseurs en gemeenskapsleiers maan ouers dringend: Moenie uit desperaatheid na kontantlenings (cash loans) hardloop nie . Hoë rentekoerse sal die probleme net vererger en gesinne dieper in skuld dompel.
“Dit lyk dalk soos ’n vinnige oplossing vir vervoer of kos, maar dit word vinnig ’n groter las,” waarsku hulle. “Beter om vroegtydig met die skool, taxi-operateurs en selfs die maatskappye te praat.”
Wat ouers en die gemeenskap nou kan doen:
– Organiseer ’n gemeenskapsvergadering om Kropz en Umoya direk te nader oor hul sosiale verpligtinge.
– Kontak die maatskappye se gemeenskaps betrokkenheid-afdelings met ’n gesamentlike versoek oor vervoerhulp.
– Vra by die Saldanha Bay Munisipaliteit en Wes-Kaapse Onderwysdepartement oor moontlike karpool-reëlings of noodhulp.
– Vermy cash loans en soek eerder advies by plaaslike NGO’s of finansiële beraders.
Die Wes-Kaapse regering verseker steeds dat daar geen brandstoftekort is nie, maar vir gesinne in Hopefield voel die impak van die April-verhogings baie werklik , op vervoer, onderwys, behuising en die toekoms van hul kinders.
CCN sal die storie bly volg, insluitend enige reaksie van Kropz, Umoya, die munisipaliteit en die provinsie. As jy ’n ouer of inwoner van Hopefield is wat jou ervaring wil deel, kontak ons by editor@ccn.co.za.
Jou stem kan help om verandering te bring.

