‘N Stil antwoord op ‘n lawaaierige land
Berig – George April
Noordkaap:- In ‘n land waar gemeenskappe sukkel om misdaad, dwelms, werkloosheid en morele verval te hanteer, steek een klein dorpie in die Noord-Kaap stilweg uit.
Geen groot advertensies. geen polisiestasies met blou ligte, geen betogings of buiteband-vure nie. Net ‘n eenvoudige poging om self te bou, self te leef, en self verantwoordelikheid te dra. Maar waarom bestaan Orania regtig, en hoekom roep dit soveel emosies op, van bewondering tot verontwaardiging?
Wat is Orania regtig?
Orania is nie ‘n gated community met ‘n sekuriteitsfirma en golfbaan nie. Dis volgens navorsing ‘n dorp gebou rondom ‘n idee: dat ‘n kultuurgemeenskap, in hierdie geval Afrikaners, selfversorgend en sonder staatshulp kan leef.
Elke inwoner van Orania werk self, daar is nie buitelandse werkers of plaaslike diensmeisies nie. Of jy nou ‘n besigheidseienaar of ‘n onderwyser is, jy maak jou eie tuin, bou jou eie huis, of help in die gemeenskap.
Daar is ‘n eie geldstelsel (die Ora), eie skole, eie koöperasies, en ‘n dorpsraad wat nie aan enige munisipaliteit onderworpe is nie. Alles funksioneer op grond van privaat eiendom en vrye assosiasie, regte wat elke Suid-Afrikaner het, maar min gemeenskappe gebruik.
Misdaad en dwelms?
In ‘n land waar die meeste dorpe en stede worstel met hoë misdaadsyfers, staan Orania se veiligheid uit. Daar is geen formele polisiestasie nie, en blykbaar bloot omdat daar amper geen misdaad is nie.
Waarom?
Volgens inwoners is die geheim eenvoudig: almal ken mekaar. Daar is geen anonieme agterstrate of vreemdelinge wat net opduik en verdwyn nie. Jy doen self jou werk, jy help jou buurman, en jy leef in ‘n gemeenskap wat dissipline en wedersydse respek vereis.
Dwelms?
Weer eens, nul sigbaarheid. Die streng toelatingsproses beteken dat nuwe inwoners eers deur ‘n komitee gesels, voordat hulle eiendom kan koop of huur. Dit klink dalk streng, maar dit beskerm die kernbeginsel van die dorp; selfverantwoordelikheid.
Hoekom laat Orania soveel mense ongemaklik voel?
Dis nie net omdat dit wit is nie, Suid-Afrika het baie woonbuurte wat hoofsaaklik wit of swart of bruin is. Wat Orania anders maak, is dat dit bewus kies om ‘n kultuurgemeenskap te wees, en daardie reg op grondwetlike beginsels uitoefen. Sommige mense sien dit as uitsluiting, ander sien dit as insluiting, ‘n veilige plek vir mense met gedeelde waardes, taal en tradisie.
Wat ook al jou mening, die feit bly staan, terwyl ander dorpe veg vir basiese dienste, funksioneer Orania asof dit in ‘n ander tydsone leef – Selfdoen, selfdink, selfwerk.
Die groter vraag – wat sê Orania oor Suid-Afrika?
Orania is dalk klein, maar dit vra groot vrae;
“Kan gemeenskappe weer beheer neem oor hul eie omgewings, en; of moet ons wag vir regering om dienste te lewer, of kan ons dit self-begin doen in ons skole, strate, sportklubs?” “Is daar plek vir kultuurgemeenskappe in ‘n diverse land, of is die droom van selfstandigheid bloot ‘n herverpakking van apartheid?” “Of, en dit vra ‘n oop gemoed; is Orania dalk ‘n stil model van hoe gemeenskappe weer kan begin bou?
Orania gee nie antwoorde vir almal nie, maar dit stel belangrike vrae, en dalk is dit presies wat Suid-Afrika nou nodig het.
Maar het u al Orania besoek?
Wat dink u van hul leefstyl en model?
Deel jou mening of stuur vir ons ‘n storie of ervaring by editor@ccnews.co.za of kontak CCN deur die “Contat Us” vorm op die nuusblad.