Wat Die Weskus Kan Gaan Verteenwoordig
Berig:- George April
HOPEFIELD:- Terwyl baie kinders erkenning kry vir hul sportprestasies, loop een stil kampioen in die gange van Hopefield Primêr, onvermeld, ongesien, maar ongeëwenaard op die veld.

In die 2024 seisoen waar talent uitgeblink het, het Monray skitterend elke geleentheid aangegryp. In byna elke wedstryd waarin sy deelgeneem het, het sy die titel van “Speler van die Dag” verower. Nie net wys dit haar talent nie, maar ook haar vasberadenheid, haar drome… en haar stilte. Want ondanks haar ongelooflike prestasies, kry sy geen erkenning van haar skool nie. Geen foto’s op die skool se sosiale platforms.
Geen trotsverklaring.
Geen viering van haar naam nie.

Maar ons sien haar.
Monray het geen groot geure en kleure nie, net ’n droom en ‘n hart wat klop vir haar sport. Sy het ’n uitnodiging gekry om die Weskus te verteenwoordig by die Interdistrik-toernooi, maar haar ma kan eenvoudig nie die nodige fondse bymekaar bring nie.
En tog… gee sy nie moed op nie.

Daarom vra ons – kan u help?
Of u nou ‘n plaaslike besigheid is of net ‘n omgee-mens met ‘n paar sente om te spaar, u bydrae maak ’n wêreld se verskil. Help ons om hierdie dogter se droom leefbaar te maak, help haar om Hopefield, en die hele Weskus, met trots te verteenwoordig, al het haar eie skool haar nie eens raakgesien nie.
Enige persoon wat ‘n bydrae wil lewer, kan ‘n WhatsApp-boodskap stuur na: Rodean Samuels – 060 454 1303
Die volle bedrag vir Monray se trip is R4.110.00 en alle gelde moet op 30 Junie 2025 inbetaal wees by die Weskus Skole Netbal Unie. Die spanne vertrek op 16 Julie, met die laaste oefenkamp wat op Dinsdag 15 Julie by HS Dirkie Uys op Moorreesburg gaan plaasvind.

Hierdie is meer as net sport, dis ’n kans om ’n jong meisie te wys –
Jy is gesien.
Jy is waardevol.
Jy is ’n kampioen.