Berig – George April
Yzerfontein:- Wat begin het as ‘n gewelddadige huisroof op Yzerfontein aan die Weskus, het Sondagaand uitgeloop op ‘n hoëspoed-jaagtog, skote en die inhegtenisneming van drie verdagtes in Okavango straat in Brackenfell, Kaapstad.
Foto – Sosiale Media
Volgens polisiewoordvoerder het drie gewapende mans kort na 21:00 by ‘n woonhuis in Yzerfontein ingebreek. Die rowers het met verskeie waardevolle items gevlug, insluitend selfone, skootrekenaars, juweliersware, televisiestelle, ‘n mikrogolfoond, sowel as ‘n gelisensieerde .38 Special-rewolwer en ammunisie.
Die verdagtes het in die huiseienaar se oranje Toyota Urban Cruiser gevlug, vermoedelik in die rigting van die N7-hoofweg.
Die Valke en Lede van die Flying Squad is onmiddellik ontplooi om die ontsnaproetes dop te hou. Die gesteelde voertuig is kort daarna op die N1, in die rigting van Paarl, opgemerk.
Volgens die polisierapport het die verdagtes probeer om polisievoertuie van die pad af te dwing tydens die jaagtog, wat ‘n lewensgevaarlike situasie geskep het.
Die jaagtog het voortgesit totdat die rowers van die N1 afgegaan het op Okavango-weg. Op die hoek van Frans Conradie-weg het hulle beheer oor die voertuig verloor en teen ‘n paal vasgery.
Volgens kolonel Jakobus Marthinus, stasiebevelvoerder van Brackenfell-polisie, is daar verskeie skote afgevuur deur die agtervolgende lede van die Flying Squad om die verdagtes te neutraliseer.
Die drie verdagtes is op die toneel gearresteer. Polisieondersoeke duur voort.
Meer besonderhede sal volg sodra dit beskikbaar is.


