🇮🇱 DIE STORIE AGTER DIE STORIE
Skrywer – George C. April
Israel:-Die naam alleen laat wêreldleiers se wenkbroue lig, ontlok debatte, protes optogte, en politieke verklaring na verklaring.
Van UN-vergaderings tot sosiale media, almal het ’n opinie. Maar diep in my hart weet ek: hierdie is nie bloot ’n politieke storie nie. Dis iets wat terugstrek… tot in die stil straatjies van my geboortedorp, Hopefield.
Ek was ’n jong seun toe ek die Jode van Hopefield leer ken het. In daardie dae het byna elke winkel hier aan Jode behoort, die enigste hotel, die meubelwinkel, en die algemene handelaars. Hulle het die gemeenskap geken soos min ander. Hulle het nie net besigheid gedoen nie, hulle het mense verstaan.
Baie van die Hopefield-mense het op see gewerk. Ander het maar net-net oor die weg gekom met ’n maandelikse salaris. Maar by die Joodse winkeliers was daar altyd ’n uitweg. Jy kon op skuld koop, kos, klere, meubels. Nie omdat jy kredietstatus gehad het nie, maar omdat hulle jou gesig geken het.
Jou storie.
Jou waardigheid.
Ek het as kind gesien hoe hulle nie met groot woorde of politieke uitsprake werk nie, maar met dade. Stil, nederig, reguit mense. Hulle het gehelp sonder om te vra of jy “iets terug kan gee.” Hulle het bygedra sonder om verwagtinge te skep.
Nou, dekades later, wanneer Israel in die nuus is, aangeval, beskuldig, uitgeskel word – hoor ek die name van daardie Jode van Hopefield nog in die gesprekke opkom.
Mense onthou.
Party wonder hardop.
Hoe oorleef so ’n klein nasie al die aanvalle?
Hoe floreer hulle omring deur vyande?
Hoekom verdwyn hulle nie, soos ander minderhede deur die geskiedenis, nie?
Dis ’n vraag wat ek self al jare dra, want as mens eerlik kyk, kan jy nie help om te sien dat Israel se bestaan nie net ’n politieke kwessie is nie.
Dis iets meer.
Dis amper… bonatuurlik.
Hulle het geen groot natuurlike hulpbronne nie. Hulle is ’n klein kolletjie op die wêreldkaart. Hulle is al eeue geteiken, verstrooi, vervolg. Maar vandag…:
✅ Hulle maak water uit die lug.
✅ Hulle verander woestyn in vrugbare land.
✅ Hulle ontwikkel tegnologie waar die wêreld jaloers op is.
✅ Hulle beskerm hulself teen terroriste met raketstelsels wat byna wetenskapfiksie lyk.
✅ Hulle oorleef oorloë wat volgens alle menslike logika hul einde moes beteken.
En steeds vra die wêreld: “Hoe is dit moontlik?”
Soos Cedric Bruintjies onlangs op sosiale media geskryf het: dis nie net oor wat Israel doen nie, dis oor wat Israel is. ‘N Lewende herinnering dat beloftes nog tel. Dat geskiedenis nie toevallig verloop nie. Dat ‘n volk wat amper moes verdwyn, terugkeer huis toe – presies soos die Skrif voorspel het.
As jy Israel wil verstaan, moet jy dalk eers jou eie agterplaas onthou. Miskien, soos ek, onthou jy die Jode van jou jeug. Die stil, hardwerkende mense wat meer gegee het as wat hulle ooit van jou verwag het.
Ek sal altyd onthou.
En ek sal nooit oor hierdie storie agter die storie kan stilbly nie.