Berig – George April
MUIZENBERG:- Die polisie in die Wes-Kaap het ‘n ondersoek geloods na die raaiselagtige en gewelddadige dood van vier mans in Overcome Heights, Muizenberg, vroeër vanoggend.
Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens is speurders van die Anti-Bende-eenheid tans besig om vas te stel wat presies tot die voorval gelei het.
Rondom 05:30 is die liggame van vier mans, tussen die ouderdomme van 20 en 37 jaar, in Mountainweg gevind, almal met noodlottige skietwonde. Hoewel bendegeweld nie uitgesluit kan word as moontlike motief nie, volg ondersoekbeamptes tans alle leidrade om die skuldiges voor die gereg te bring.
Die polisie doen ‘n beroep op enigeen met inligting wat kan help met die ondersoek om Crime Stop te skakel by 08600 10111 of die MySAPS-selfoontoep te gebruik.
Getuienisse kan anoniem bly en alle inligting sal streng vertroulik hanteer word


