Berig – George April
HOPEFIELD:- Die voorsitter van die Boland Skeidsregters Vereniging, Linston Manual, is Woensdagaand tydelik geskors, met betaling, na bewering na toenemende druk oor beweerde korrupsie onder klubrugby-skeidsregters.
Volgens berigte op sosiale media is ’n ander skeidsregter reeds ’n paar weke gelede lewenslank geskors, hoewel CCN geen bevestiging kon kry nie, aangesien die Boland Rugbyunie (BRU) volhou weier om op navrae te reageer.
Betalings aan sogenaamde korrupte klubrugby-skeidsregters is al vir jare ’n warm geselskapspunt onder spelers en ondersteuners. Die reaksie van sommige klubs op Manual se skorsing is skepties. “Om Manual nou te skors gaan niks verander nie,” het verskeie spelers en ondersteuners aan CCN gesê.
Hierdie naweek vind die laaste klubrugby wedstryde van die seisoen plaas, maar die vraag bly: Wat gaan werklik verander? Die skade is reeds gedoen, veral Hopefield se rugbyspan was die afgelope seisoen keer op keer slagoffers van omstrede skeidsregterbesluite.
Op navrae aan SA Rugby en Outsurance het media-woordvoerders slegs een keer gereageer. SA Rugby se woordvoerder het toe beloof dat ondersoeke gedoen sou word. Sedertdien is geen verdere terugvoer ontvang nie, selfs toe nog klagtes onder CCN se aandag gebring is, insluitend insidente by skole rugbywedstryde wat tot ernstige besware gelei het.
Met die seisoen wat tot ’n einde kom, bly die toekoms onseker, gaan hierdie skorsing die begin van werklike verandering wees, of net nog ’n tydelike pleister oor ’n diep wond?