Na nog ’n verkoolde lyk in Macassar gevind was.
Berig – George April
MACASSAR:- Die gemeenskap van Macassar is weer in skok ná die grusame ontdekking van ’n verkoolde liggaam in Kramatstraat op Saterdagoggend.
Die ontstellende vonds is minder as ’n week ná ’n vorige moord in dieselfde area gemaak, wat inwoners laat vrees dat Macassar vinnig in ’n misdaadbrandpunt verander.
Gemeenskapsleier en Wykskomiteelid vir Veiligheid, Mark Baardtjies, sê die jongste voorval het inwoners ontsteld en bang gelaat.
“Dis nou die tweede liggaam wat in minder as ’n week hier gevind word. Ons strate raak gevaarlik en dit voel asof misdadigers die gebied as ’n stortplek vir liggame gebruik,” het hy gesê.
Hy doen ’n dringende beroep op SAPS om meer patrollies te hou en sigbaarheid te verhoog voordat nóg lewens verlore gaan.
Polisiewoordvoerder Sers. FC Van Wyk het bevestig dat ’n moordondersoek aan die gang is.
“Polisie is na die toneel ontbied waar die gemeenskap die liggaam van ’n onbekende man in ’n veld ontdek het wat aan die brand gesteek is. Die slagoffer was reeds dood en verbrand tot onherkenbaarheid,” het Van Wyk gesê.
Inwoners sê hulle is moeg vir vrees en eis dat die owerhede vinnige optrede neem om hul buurt weer veilig te maak.