Verslaggewer – Isaac Cloete
Springbok:- Die Nama Khoi-distrik is hierdie week in rou gedompel ná twee afsonderlike brandverwante sterftes wat binne slegs twee dae plaasgevind het.
In die jongste voorval is Debbie Hollenbach (49) Maandagnamiddag tragies in haar wendyhuis in Nababeep, naby Springbok, dood toe die struktuur aan die brand geslaan het. Volgens inwoners het die voorval kort ná 18:00 plaasgevind.
Polisiewoordvoerder kaptein Magerman het bevestig dat geen vuilspel op hierdie stadium vermoed word nie.
“Volgens inligting het die oorledene ongeveer 18:00 by haar woning opgedaag, die deur gesluit en daarna is die woning aan die brand gesteek. ’n Lykskouing sal die presiese oorsaak van haar dood bepaal,” het Magerman gesê.
Die polisie versoek enigiemand met inligting oor die voorval om speurder Enrico Cloete by 082 302 0021 te kontak, of om anoniem in te skakel by die Misdaadstopnommer 08600 10111.
Hollenbach was die oudste dogter van die oorlede meester Bennie en Moekie Hollenbach, bekend en geliefd in die Nama Khoi-gemeenskap. Haar jonger suster, Genene Hollenbach, wat tans in Spanje woon en ’n bekende sanger en liedjieskrywer is, sal na verwagting hierdie naweek in Suid-Afrika arriveer om die begrafnis by te woon. Die diens sal volgende Saterdag in die VGK te Nababeep plaasvind.
Die tragedie volg slegs twee dae ná ’n ander noodlottige brand waarin Johan van Rooyen, ’n plaaslike mynbestuurder, Saterdagaand gesterf het. Hy het op die Buffelsrivierpad naby Eselsfontein omgekom nadat die bakkie waarin hy en sy vriendin gereis het, aan die brand geslaan het. Sy metgesel het volgens berigte geringe brandwonde opgedoen.
Beide sterftes het groot ontsteltenis in die streek veroorsaak, met inwoners wat hul medelye teenoor die families uitspreek en die gemeenskap vra om mekaar in hierdie moeilike tyd te ondersteun.

