Teen Moedige Gemeenskappie
Verslaggewer – Isaac Cloete
Namakwaland:- Die kragreus Eskom, is tans in ‘n felle stryd gewikkel met die Pella-gemeenskap.
Die geveg spruit voort uit kragpale wat Eskom onwettig op die gemeenskap se grond, naby Leikamp geplant het, volgens Ina Basson, voorsitter van Vrywillige, Vooraf en Voortdurende Ingeligte Toestemming organisasie (VVVT).
Voor dit het Eskom die gemeenskap R15 000 aangebied om ses pale oor 15km te plant. Dit was later verhoog na R89 000, na samesprekings met die gemeenskap en die gemeenskaplike eiendomsverenigings (CPA).
Dit was ook deur die gemeenskap afgeskiet.
“Ons het toe n resolusie opgestel, waarin ons gevra het dat Eskom eerder ons krag moet opgradeer na 60 amp per woning.
“Verder moes Eskom ook boorgate vir die veeboere aan die buitewyke van Pella maak.”
Eskom het intussen van die pale gaan plant sonder die gemeenskap se medewete. En dit nogals in die aand, het inwoners vertel.
Hulle het toe groepe gevorm en Eskom-werkers van hulle grond afgesit. Hulle waak nou dwarsdeur die nag én dag op hul grond om te verhoed dat Eskom verder werk.
Roma Simboya is die onder-sekretaris van die CPA.
Volgens haar moet Eskom na die Pella gemeenskap luister, want dis hulle grond. Of alles stop.
Intussen het die VVVT NAMAKWA, hulle onvoorwaardelike steun aan die Pella-gemeenskap gegee. Luidens n verklaring sê hulle:
“Die gemeenskap van Pella staan saam om hul grond te beskerm.
As wettige grondreghouers laat hulle hul stem hoor en herinner almal dat ontwikkeling nie sonder die gemeenskap se toestemming kan plaasvind nie.
Die mense van Pella bly standvastig in die beskerming van hul grond, hul regte en hul toekoms.
Pella se mense sit en wag vreedsaam op hul grond.
Eskom moet eers die nodige prosesse met die gemeenskap suksesvol afhandel voordat enige verdere werk op hul grond kan voortgaan.
Dis ons mense se grond, regte en toekoms.”

