CCN Redakteur
HOPEFIELD:- Wanneer mense die gevoel kry dat geregtigheid nie meer bestaan nie, begin hulle self optree.
Steeds meer en meer Suid-Afrikaners, van Khayelitsha tot Hopefield, voel die wet beskerm hulle nie meer nie, omdat die polisie bloot toekyk. Wat begin as frustrasie, draai vinnig in woede en lei dikwels tot dade wat die grens tussen slagoffer en oortreder laat vervaag.
“Ek het uitgevind waar hy woon – hy gaan nie wegkom nie.”
Is dit die pad vorentoe?
Dis ’n vraag wat baie mense begin vra, maar min besef die gevolge wat dit kan inhou.
’n Vrou van Hopefield het dié week haar frustrasie met Cape Coast News (CCN) gedeel, nadat dit vir haar duidelik geword het dat die plaaslike polisie nie haar saak gaan ondersoek nie.
In ’n emosionele stemboodskap het sy gesê:
“Langer gaan ek nie wag vir die polisie wat duidelik nie belangstel om te help nie. Ek het uitgevind waar die man woon, en hy gaan beslis nie wegkom vir wat hy aan my gedoen het nie.”
Hoewel haar saak nie oor moord of verkragting gaan nie, wys haar woorde hoe diep die wantroue teenoor die stelsel reeds gesaai is. CCN moes haar skakel en verduidelik dat dit nie die moeite werd is om die wet in eie hande te neem nie – want selfs dán is daar gevolge.
Khayelitsha-voorval skok die land
Die frustrasie van gewone mense met ’n regstelsel wat nie werk nie, het die naweek dramaties uitgeloop in Khayelitsha, waar inwoners twee verdagtes aangeval en lewend verbrand het nadat hulle glo ’n jong vrou ontvoer, verkrag en vermoor het.
Die slagoffer, Asiphe Hlekwani (22), se liggaam is in ’n gemeenskaplike toilet gevind. Volgens berigte is sy deur drie mans ontvoer en later doodgesteek nadat hulle besef het iemand het gesien wat gebeur het.
Twee van die verdagtes is deur woedende inwoners gevang, gemartel en doodgemaak, terwyl ’n derde glo gevlug het.
“Die gemeenskap is moeg vir moorde en verkragtings”
Raadslid Thando Pimpi het bevestig dat hy op die toneel was en gesê:
“Ek verstaan hul frustrasie, mense is moeg vir misdaad, vir moorde, vir verkragtings – maar ek moet dit duidelik sê: om die wet in eie hande te neem, is nie die oplossing nie.”
Volgens polisiewoordvoerder Sersant Wesley Twigg, word ondersoeke na beide die jong vrou se moord en die twee mans se dood voortgesit. Geen arrestasies is nog gemaak nie.
‘N waarskuwing van die Wes-Kaapse regering
Die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-oorsig, Anroux Marais, het die gemeenskap se pyn erken, maar gewaarsku teen mob geregtigheid:
“Ja, geregtigheid kom dikwels stadig – of glad nie. Maar om self die wet toe te pas, bring jou net in konflik met dieselfde wet wat jou moes beskerm.”
Sy het inwoners aangemoedig om steeds misdaad aan te meld by Crime Stop (08600 10111) of via die MySAPS-toepassing.
Hoekom mense op Hopefield nou begin twyfel
Op die platteland begin die ongeduld ook groei.
Op Hopefield sê inwoners hulle voel net so verontreg soos dié in die stad. Verskeie klagtes oor die Hopefield-polisie is reeds aan IPID (die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat) gestuur – maar tot dusver geen antwoord, geen optrede.
Die algemene antwoorde van inwoners.
“Ons stuur e-posse, lê klagtes, gee name, maar dit bly stil. Wanneer die wet jou nie meer beskerm nie, wat bly oor?”
CCN het self verskeie navrae aan IPID gestuur oor sake wat deur die plaaslike polisie geïgnoreer word, maar wag steeds op ’n reaksie.
’N land op die rand van selfgeregtigheid
Suid-Afrikaners, van Khayelitsha tot Hopefield, begin gevaarlik naby daaraan beweeg om die wet in eie hande te neem. Nie omdat hulle kriminele is nie, maar omdat hulle nie meer glo die stelsel werk nie.
Dis ’n onrusbarende teken van ’n samelewing waar vertroue in geregtigheid verlore gaan.
En as dié tendens voortduur, sal die vraag bly hang:
As die wet jou nie kan beskerm nie – wie sal?


