– Die vrae rondom Liam Jacobs
CNN OPINIE
Die terugkeer van Liam Jacobs na die Demokratiese Alliansie (DA) het reeds sterk reaksie op sosiale media en in politieke kringe ontlok.
Wat baie mense laat kopkrap, is nie net dat Jacobs terugkeer nie, maar die warm ontvangs wat hy ontvang nadat hy die party onder ‘n wolk van kritiek verlaat het.
Toe Jacobs die DA verlaat het om by die Patriotic Alliance (PA) aan te sluit, het hy nie stilweg vertrek nie. Hy het in verskeie media-onderhoude ernstige kritiek teen die DA uitgespreek. Onder andere het hy beweer dat hy ongemaklik gevoel het binne die party en het hy beskuldigings gemaak wat deur sommige as aantygings van rassisme geïnterpreteer is.
Nou, skaars ‘n paar maande later, word dieselfde persoon met ope arms terug verwelkom. Dit laat ‘n belangrike vraag ontstaan:
Sou enige gewone partylid dieselfde behandeling ontvang het?
In KwaZulu-Natal is daar volgens berigte twee voormalige DA-lede wat aansoek gedoen het om hul lidmaatskap te laat herstel. Een van hulle was glo vir byna twee dekades ‘n lojale lid van die party. Ten spyte van herhaalde teleurstellings wanneer hy nie vir poste gekies is nie, het hy steeds die party ondersteun totdat hy uiteindelik besluit het om weg te stap.
Volgens die inligting wat tans sirkuleer, is albei se aansoeke afgekeur.
Indien dit korrek is, ontstaan verdere vrae oor konsekwentheid. Waarom word sommige voormalige lede terug verwelkom terwyl ander nie dieselfde geleentheid kry nie? Is politieke invloed, openbare profiel en media-aandag dalk belangriker as jarelange lojaliteit?
Nog ‘n interessante aspek is die stilte vanuit die Patriotic Alliance.
Toe Liam Jacobs die DA verlaat het, was dit groot nuus. Sy aansluiting by Gayton McKenzie se party is wyd bemark. Sedert sy terugkeer na die DA is daar egter relatief min openbare kommentaar oor die aangeleentheid.
Kiesers wonder nou: Was Jacobs se vertrek na die PA ooit bedoel as ‘n langtermyn politieke tuiste, of was dit bloot ‘n tydelike skuif? Natuurlik het elke politieke party die reg om sy eie besluite oor lidmaatskap te neem. Niemand kan dit ontken nie.
Maar politieke partye word uiteindelik nie net beoordeel op hul beleid nie. Hulle word ook beoordeel op hoe konsekwent hulle hul eie beginsels toepas. Vir baie Suid-Afrikaners gaan die debat nie oor Liam Jacobs as individu nie. Die groter vraag is eerder of dieselfde reëls vir almal geld.
En dit is ‘n vraag wat waarskynlik nog lank ná hierdie politieke skuif gevra sal word.
