Oor Krises in Gesondheidsdiens
Verslaggewer – Isaac Cloete
SPRINGBOK, NOORD-KAAP:- Verpleegpersoneel by die Dr. Izak van Niekerk-hospitaal in Springbok het Maandag tot ‘n noodgedwonge sloeraksie oorgegaan, nadat jarelange personeeltekorte en verslegtende werksomstandighede volgens hulle ‘n breekpunt bereik het.
Die aksie volg nadat verpleegsters aangedui het dat hulle nie langer die toenemende druk, werkslading en personeeltekorte kan hanteer nie. “Die media moet asseblief kom kyk wat hier aangaan. Ons is terug waar ons in 2019 was,” het een personeellid gesê.
Volgens personeel het minstens agt verpleegsters sedert Desember 2025 bedank of afgetree, sonder dat die poste gevul is.
“Ons is uitgebrand en fisies en emosioneel uitgeput. Die Departement van Gesondheid het geen sigbare plan om die personeeltekort aan te spreek nie,” het een verpleegster gesê.
‘N ondersoek deur die media dui daarop dat die personeelkrisis reeds ‘n direkte invloed op dienslewering het. Pasiënte moet volgens berigte vir lang tye wag vir behandeling, terwyl sommige selfs onverrigtersake huis toe gestuur word. Die ongevalle-eenheid word ook as onvoldoende beskryf om die toenemende aantal noodgevalle, veral oor naweke, te hanteer.
Maandag se aksie het tot groot ontwrigting gelei toe verpleegsters wat aan diens was, sowel as personeel wat nagdiens gewerk het, by die protes aangesluit het. Dokters moes vir ‘n tydperk addisionele verantwoordelikhede oorneem om noodsaaklike dienste aan die gang te hou.
Geen ernstige voorvalle is egter aangemeld nie.
Die distriksdirekteur van gesondheid, Daniel Grootboom, het later die oggend met die verpleegpersoneel vergader om hul griewe aan te hoor.Verpleegsters eis nou dat daar binne sewe dae konkrete en positiewe terugvoering gegee word oor die kwessies wat geopper is. Indien nie, waarsku hulle dat verdere aksies kan volg.
Hospersa staan bankvas agter lede
Deon Olivier, organiseerder van die verpleegkundevakbond Hospersa, sê die vakbond ondersteun sy lede ten volle.
“Vir die afgelope sewe jaar het daar min verander. Personeel werk steeds onder geweldige druk en talle probleme bly onopgelos,” het Olivier gesê. Hy het ook verwys na die Boeboe van Wyk Onkologie-eenheid, wat met groot verwagtinge aangekondig is, maar volgens hom steeds nie ten volle operasioneel is nie.
“Wanneer die sewe dae verstryk het, sal ons besluit watter verdere stappe nodig is,” het hy gesê.
Geskiedenis herhaal hom
Volgens beskikbare inligting is dit die tweede keer in die afgelope aantal jare dat verpleegpersoneel by die hospitaal tot ‘n soortgelyke aksie oorgaan.
Op 2 September 2019 het verpleegsters in die streek ook ‘n vreedsame sloeraksie van stapel gestuur weens personeeltekorte, swak werksomstandighede en ander diensleweringsprobleme. Daardie aksie het sowat tien dae geduur.
Ten spyte van verskeie vergaderings tussen personeel en owerhede is min van die destydse probleme volgens werknemers permanent opgelos. Gedurende die 2019-aksie moes duur agentskapverpleegsters tydelik ingebring word om dienste te ondersteun. Die Departement van Gesondheid het later ook ‘n hofinterdik teen die aksie bekom.
Die bekende Springbok-geneesheer, dr. Calvino Watt, het destyds sy steun aan die verpleegpersoneel uitgespreek.
“Moenie agter ‘n interdik skuil nie. Ons verpleegsters is nie kriminele nie. Dit is ‘n skande dat hulle sonder voldoende medikasie en toerusting moet werk. Hulle veg nie vir hoër salarisse nie, maar vir beter werksomstandighede,” het hy destyds gesê.
Onkologie-eenheid steeds ‘n bron van frustrasie
Intussen bly die splinternuwe Boeboe van Wyk Onkologie-eenheid ‘n bron van groot frustrasie vir baie inwoners van Namakwaland. Ten spyte van die moderne fasiliteit moet talle kankerlyers steeds na Kimberley, Bloemfontein en ander sentrums reis vir spesialisbehandeling, wat die vraag laat ontstaan wanneer die eenheid uiteindelik ten volle benut sal word.
Vir baie verpleegsters is die huidige krisis egter groter as geboue en infrastruktuur.
“Ons wil net die nodige personeel, toerusting en ondersteuning hê om ons werk behoorlik te kan doen en die gehalte sorg te lewer wat pasiënte verdien,” het een van hulle gesê.


