With Love Charity Shop vra Hopefield om ondersteuning
HOPEFIELD – Agter die eenvoudige voorkoms van ’n tweedehandsewinkel in Hopefield lê daar ’n verhaal van omgee, volharding en diens aan mense wat swaarkry.
With Love – Charity Shop Hopefield bestaan reeds sowat agt jaar en het volgens eienaar Keith Noyle nog nooit begin met die doel om groot geld te maak nie. Die kern van die winkel is eenvoudig: om minderbevoorregte lede van die gemeenskap te ondersteun en terselfdertyd genoeg inkomste te genereer om die deure oop te hou.
Die winkel maak hoofsaaklik staat op goedere en donasies wat aan hulle geskenk word en wat dan teen bekostigbare pryse aan die gemeenskap beskikbaar gestel word. En daar is omtrent enigiets onder een dak.
Van tweedehandse klere, baba- en kinderklere, boeke, kombuisware, breekgoed en CD’s tot verskeie ander bruikbare items – mense kan dikwels iets kry wat hulle nodig het sonder om diep in hul sakke te hoef te krap.
Toe CCN die winkel besoek het, was die werklikheid van daardie behoefte duidelik.
’n Vrou het juis op daardie stadium klere gekoop. Die geld wat sy oorhandig het en die klere wat sy saam met haar geneem het, het op ’n eenvoudige manier vertel waarom winkels soos hierdie steeds ’n belangrike rol in ’n gemeenskap speel. Nie almal kan nuwe goed bekostig nie. Maar baie mense het steeds behoeftes.
“Ons maak staat op donasies en tweedehandse voorrade wat aan ons geskenk word,” het Noyle aan CCN gesê.
Volgens hom ontvang die winkel gereeld ondersteuning van ’n organisasie in Langebaan wat klere en ander donasies skenk. Dit help hulle om voort te gaan, maar die winkel se voortbestaan bly ’n uitdaging.
’N terugslag wat seermaak
Die afgelope naweek is daar weer by die winkel ingebreek. Volgens Noyle is die winkel binne-in deurmekaar gelaat en is selfs die kraan afgesteel. Vir ’n gewone besigheid sou so ’n voorval reeds ’n ernstige terugslag wees.
Vir ’n liefdadigheidswinkel wat hoofsaaklik op skenkings en klein verkope staatmaak, maak dit die uitdaging nog groter. Maar Noyle se fokus bly steeds op die mense wat by die winkel uitstap.
Die doel is nie om wins te maak nie, maar om die deure oop te hou vir mense wat self swaarkry.
Hopefield, hierdie winkel het julle nodig
Dit is hier waar die gemeenskap dalk ’n groter rol kan speel; ondersteuning hoef nie altyd groot te wees nie.
’n Sak skoon tweedehandse klere wat nie meer gebruik word nie. Boeke wat in ’n kas lê. Kombuisware wat nie meer nodig is nie. Baba- of kinderklere wat uitgegroei is. Enige bruikbare items wat iemand anders moontlik kan benodig, kan ’n verskil maak.
En selfs indien jy niks nodig het nie, kan jy eenvoudig by die winkel stop en iets kleins koop. Noyle het self gesê dat selfs ’n koppie koffie van R15 ’n verskil maak.
Dit klink dalk klein.
Maar vir ’n winkel wat probeer om kop bo water te hou terwyl dit terselfdertyd mense help, tel elke R15.
’N gemeenskaplike verantwoordelikheid
Dit is maklik om te vra wat ’n gemeenskap vir ons kan doen, maar soms is die beter vraag:
Wat kan óns doen om iets wat reeds vir ons gemeenskap beteken, aan die gang te hou?
With Love – Charity Shop is al agt jaar deel van Hopefield.
Dit bied nie net goedkoop tweedehandse goedere nie. Dit gee mense toegang tot noodsaaklike items teen pryse wat hulle moontlik kan bekostig, terwyl die winkel se bestaan terselfdertyd daarop gemik is om mense wat minder bevoorreg is, te ondersteun.
As Hopefield wil hê hierdie klein winkel met sy groot hart moet voortbestaan, is dit dalk tyd dat ons almal ’n bietjie meer ondersteuning wys.
- Skenk wat jy nie meer gebruik nie.
- Koop iets wanneer jy daar verbygaan.
- Stop vir daardie koppie koffie.
- En vertel iemand anders van die winkel.
Want soms begin gemeenskapsondersteuning nie met ’n groot bedrag geld nie – dit begin met ’n klein gebaar.
Nog ’n voorval naby die winkel wat die naweek afgespeel het.
Die inbraak by With Love Charity Shop was volgens inligting wat aan CCN beskikbaar gestel is, nie die enigste voorval in die onmiddellike omgewing dié naweek nie. Oorkant die pad, by die kamp van die Padwerke-administrasie (PA), is daar glo ook skade aan werkstrokke aangerig nadat drade van die trokke afgebreek of geknip was.
Volgens inligting wat CCN ontvang het, kan dit beteken dat sommige van die werkers se gewone padwerkaktiwiteite hierdie week geraak word.
Toe CCN vanoggend daar besoek afgelê het, was werkers besig om die kamp skoon te maak.
Dit laat egter ’n vraag ontstaan wat tans nie deur CCN beantwoord kan word nie:
Met veiligheidswagte wat normaalweg gedurende die nag by die ingang van die kamp teenwoordig is, en selfs ganse binne die kamp wat waarsku wanneer mense naby kom – hoe kon die skade plaasvind?
CCN sal verdere inligting hieroor probeer bekom.
