IS NIE ‘N POLITIEKE SPELETJIE NIE!
Wanneer politieke lojaliteit belangriker word as die toekoms van ons gemeenskap, moet ons ernstig begin nadink.
Ek het vandag saam met ‘n vriend deur Oudekraalfontein – Hopefield geloop en met inwoners gesels oor die huidige plaaslike verkiesing.
Wat ek gehoor het, het my eerlikwaar geskok.
Hierdie is nie ‘n poging om stemme vir myself of enige politieke party te werf nie. Dit is ‘n gemeenskaps aktivis se reaksie op die werklikheid wat voor ons lê.
KYK NA DIE FEITE.
Hopefield staar ‘n ernstige ekonomiese en maatskaplike krisis in die gesig.
1. WERKLOOSHEID
Kropz, die myn se hoofkontrakteur, het amptelik bevestig dat afleggings teen die einde van November plaasvind.
Met ‘n plaaslike werkloosheidsvlak wat dan byna 90% bereik, kan die gevolge veel verder strek as die werknemers wat hul werk verloor.
Taxibestuurders, klein ondernemings en werknemers by ons twee plaaslike kettingwinkels kan almal die gevolge van ‘n verdere afname in plaaslike koopkrag ervaar.
Wanneer mense nie meer ‘n inkomste het nie, raak dit die hele plaaslike ekonomie.
2. ONS KINDERS EN SKOOLVERVOER
Daar is byna 100 Graad 10-leerders wie se skoolbywoning in 2027 onseker is.
Verlede week het die skoolhoof van Moorreesburg Hoërskool amptelik aan ouers bevestig dat die skool volgende jaar nie nuwe leerders uit Hopefield gaan inneem nie.
Daar is ook sprake dat Weston Senior Sekondêre skool in Vredenburg ook nie meer leerlinge van Hopefield gaan huisves nie.
Daarby is daar reeds kinders in verskillende grade wat gedurende 2026 nie skool bywoon nie. Omdat skole nie genoeg plek het om kinders te akkomodeer nie.
Ouers doen hul bes, maar baie kan eenvoudig ook nie die vervoer bekostig nie.
Dit is waarom ek as die PAC-kandidaat vir Ward 7 ‘n persoonlike verbintenis op die tafel geplaas het: 50% van my maandelikse raadslede vergoeding vir Hopefield se skoolvervoer, indien ek verkies word.
Nie omdat dit al die probleme gaan oplos nie, maar omdat ek glo dat ons praktiese oplossings moet begin vind.
3. BEHUISING EN ANDER GEMEENSKAPSPROBLEME
Die behuisingskrisis, werkloosheid, opvoeding en die gebrek aan ekonomiese geleenthede is nie nuwe probleme nie.
Dit is die werklikheid waarmee talle gesinne elke dag moet saamleef.
Tog, wanneer ‘n mens met inwoners praat, hoor jy opmerkings soos:
“Ek stem vir my vriend.”
“Ek stem vir my familielid.”
“Ek is lojaal aan my party, dit is al wat saak maak.”
En dan die opmerking wat my vandag die meeste ontstel het:
“Dit is nie my kind nie, waarom moet ek omgee?”
WERKLIK?
Wanneer het ‘n kind se opvoeding opgehou om die verantwoordelikheid van die gemeenskap te wees?
Jy hoef nie ‘n kind in ‘n bepaalde skool te hê om vir daardie kind se toekoms om te gee nie.
Jy hoef nie self werkloos te wees om bekommerd te wees oor jou buurman wat sy werk verloor nie.
Jy hoef nie in ‘n behuisingskrisis te wees om te verstaan dat ander mense hulp nodig het nie.
Ek is al jare lank as gemeenskapsaktivis feitlik 24/7 beskikbaar wanneer inwoners hulp benodig. Ek ken die oproepe, die noodkrete en die mense wat nie weet waarheen om te draai nie.
Dit is dikwels dieselfde mense wat vandag hulp benodig, maar môre weer bereid is om hul politieke lojaliteit bo die groter gemeenskapsbelang te plaas.
Ek respekteer elke inwoner se demokratiese reg om te kies wie hulle wil ondersteun.
Maar ek verstaan nie hoe ‘n gemeenskap met sulke ernstige uitdagings die verkiesing kan benader asof dit ‘n speletjie tussen politieke partye, vriende en familielede is nie.
ONS HET NIE DIE LUUKSE OM DIE REALITEIT TE IGNOREER NIE.
Wanneer die mynwerkers hul werk verloor, wanneer kinders nie skool toe kan gaan nie, wanneer klein ondernemings begin sukkel en wanneer gesinne nie meer weet hoe hulle môre gaan oorleef nie, gaan geen politieke kleur die gevolge namens ons dra nie.
Ons gaan almal daarmee moet saamleef.
Ek vra nie dat almal dieselfde politieke oortuiging moet hê nie.
Ek vra dat ons weer moet begin onderskei tussen partybelange en gemeenskapsbelange.
Want Hopefield se probleme gaan nie verdwyn wanneer die verkiesingsplakkate afgehaal word nie.
Die verkiesing is tydelik, maar die gevolge van ons besluite kan ‘n hele generasie raak.
En ek wonder werklik:
As ons nie nou saamstaan vir ons kinders, ons werklose inwoners en ons dorp nie, wanneer gaan ons?
George C April – Community Activist

