BERGRIVIER MUNISIPALITEIT:- Piketberg en Porterville het Maandag ‘n spesiale mylpaal gevier, toe die Wes-Kaapse Regering (Departement van Infrastruktuur), in vennootskap met Bergrivier Munisipaliteit, die eerste 45 nuwe huise aan begunstigdes van die behuisingsprojekte in hierdie twee dorpe oorhandig het.
Op hierdie foto (van links) is die Uitvoerende Burgemeester, Ray van Rooy (Bergrivier-Munisipaliteit), saam met die Wes-Kaapse Minister van Infrastruktuur (Tertius Simmers), wat die sleutels aan die oudste begunstigde in Piketberg, Trytjie Sampson (89), oorhandig het.
Van die huise is 20 aan inwoners van Piketberg en 25 aan inwoners van Porterville toegeken.
Die oorhandiging seremonie was ‘n gedenkwaardige oomblik vir die gemeenskap, met die Uitvoerende burgemeester, Alderman Ray van Rooy, wat ‘n bemoedigende boodskap aan die nuwe huiseienaars gerig het. “Dit is julle dag, en julle kan trots wees, dit is die begin van ‘n nuwe hoofstuk vir julle en julle gesinne”, so geniet julle nuwe huis.”
Die Wes-Kaapse Minister van Infrastruktuur, Tertius Simmers, het saam met burgemeester Van Rooy die sleutels aan die begunstigdes oorhandig. Hulle het ook die lint vir sommige van die oudste begunstigdes gesny, wat ‘n nuwe begin vir hierdie families gesimboliseer het.
Hier ontvang nog ‘n bejaarde inwoner van Piketberg, Anna Kock, 86 jaar, ook van Piketberg haar nuwe huis se sleutels vanaf Ray van Rooy en Tertius Simmers.
Minister Simmers het sy trots uitgespreek en die begunstigdes geloof vir hul geduld. “Dankie dat julle geduldig gewag en vertroue behou het, vandag is julle dag, en julle is nou die eienaars van ‘n huis,” het Simmers gesê. Neem verantwoordelikheid en kyk mooi daarna,” het die Minister aan die nuwe eienaars gesê.
Een van die mees aangrypende oomblikke was toe die 89-jarige Mev. Trytjie Sampson van Piketberg haar huissleutels ontvang het. Met trane van vreugde het sy gesê, “ek is sprakeloos en het nie woorde om my blydskap uit te druk nie.” Ek is so dankbaar en dank God vir hierdie huis, en ek gaan heeldag skoonmaak en werk in my nuwe huis.”
Begunstigdes het Vrydag 28 Maart 2025 die behuisings oorhandiging seremonie in Piketberg bygewoon, terwyl hulle gretig op die sleutels van hul nuwe huise gewag het.
Hierdie behuisings projek is deel van ‘n groter inisiatief om behuising in die Bergrivier-streek te verbeter, lui die media verklaring van die Bergrivier munisipaletiet media woordvoerder, Matthew Shaldon. Nog huise sal oor die volgende paar maande in beide Piketberg en Porterville aan begunstigdes oorhandig word, wat hoop en stabiliteit aan talle gesinne in die Bergrivier gemeenskap sal bring.

