Berig – George April
HOPEFIELD – In die afgelope paar weke bevind inwoners van Hopefield hulself in die middel van ‘n nuwe stryd.
Eers was dit die gerug dat die mynmaatskappy Kropz, wat reeds teen omgewings regulasies baklei het, toestemming vra om binne die grense van die Weskus Nasionale Park te myn. Nou is dit die Green Hydrogen & Ammonia-projek, wat skaars 3km buite die dorp beplan word.
Op papier klink dit indrukwekkend – Duursame energie, 2 500 bouposte, 500 permanente werke, en miljoene rande se ekonomiese inspuiting. Maar baie plaaslike mense vra: Teen watter prys?
“‘n Projek van daai skaal so naby aan Hopefield, dis gewaagd. Dit gaan ons dorpie se hart en ritme verander,” sê ‘n inwoner op ‘n plaaslike WhatsApp-groep.
Volgens dokumentasie wat onlangs op sosiale media versprei is, beplan die maatskappy Phelan Green Energy om die aanleg te bou met infrastruktuur wat elektrolyse, ammoniakstoor, ontginning van afvalwater, en sonkrag insluit.
Hoewel die projek “groen” is, vra inwoners vrae oor: Die veiligheid van waterstof en ammoniak-opberging.
Die invloed op die plattelandse karakter van Hopefield. Die druk op bestaande dienste soos water, behuising en mediese noodhulp. En die gebrek aan werklike gemeenskapskonsultasie.
Intussen is WWF Suid-Afrika in ‘n hofstryd met dieselfde mynmaatskappy, Kropz, wat vroeër versuim het om die biodiversiteitsvoorwaardes van hul 2015-mynlisensie na te kom. Nou wil hulle daardie myn uitbrei – in ‘n nasionale park.
“Dis asof ons dorp geteiken word – eers ‘n myn in ‘n park, nou ‘n megaprojek langs ons huise. Dis tyd dat ons opstaan,” sê ’n ander gemeenskapslid.
CCN het probeer vasstel of daar enige formele openbare vergaderings plaasgevind het, maar dit lyk of die gemeenskap meestal in die duister gehou word, met net beloftes van “opkomende SIA-vergaderings” (Sosiale Impak Assessering).
Intussen wag Hopefield…
Nie net op werk of ontwikkeling nie, maar op duidelikheid, inspraak en respek.


