Ma laat 4 jarige Dagga Rook.
Verslaggewer – George April
Kaapstad:- Die Kapenaars is weer met skok en woede getref, nadat twee hartverskeurende voorvalle die wrede realiteit van die Kaapse Vlaktes se sosiale krisisse onderstreep het.
In Nyanga het ‘n vyfjarige seuntjie die jongste slagoffer van bendegeweld geword, nadat hy Maandagaand in ‘n kruisvuur vasgevang is. Die seuntjie, wat op straat gespeel het toe skote afgegaan het, is noodlottig in die bors getref en het kort daarna aan sy wonde beswyk.
Die Nyanga-gemeenskap is ontsteld en eis dringende optrede. “‘N kind moet nie in vrees grootword of in sy eie buurt sterf nie,” het ‘n gemeenskapsleier gesê. “Ons vra dat die polisie meer sigbaar moet wees en dat dié bloedbad gestop word.”
Intussen het ‘n ander voorval, dié keer in die Mfuleni-area, vir verontwaardiging gesorg nadat ‘n 28-jarige moeder in hegtenis geneem is, omdat sy glo haar vierjarige seuntjie dagga laat rook het. ‘N video van die voorval het op sosiale media versprei en het daartoe gelei dat die SAPD vinnig opgetree het.
Volgens ‘n polisiewoordvoerder is die ma reeds formeel aangekla van kindermishandeling en verskyn sy binnekort in die hof. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling is ingeroep om die kind se veiligheid te verseker.
Beide voorvalle wys op die al hoe meer desperate toestande waarin kinders op die Kaapse Vlakte moet oorleef , vasgevang tussen geweld, dwelms en sosiale verval.
“Ons kan nie langer toekyk nie – die jeug van die Kaapse Vlakte word gestroop van hul toekoms, nog voor hulle hul eerste tande verloor,” het ‘n jeugwerker gesê.
Die publiek word aangemoedig om enige inligting wat kan help met ondersoeke, aan die polisie te rapporteer.