Berig – George April
Lutzville:- Die verspreiding van dwelms in die Wes-Kaap het Vrydag, 15 Augustus 2025, ’n ernstige knou gekry, toe lede van die Namaqualand K9-eenheid saam met Lutzville-speurders ’n gesamentlike operasie uitgevoer het.
Tydens ’n opsporingsaksie het die lede ’n voertuig langs die pad dopgehou toe ’n vrou daaruit geklim en ’n sak in die bosse probeer wegsteek het. Die polisielede het vinnig opgetree, die voertuig gestop en die sak deursoek. Binne-in is 600 mandrax-tablette en ’n plastieksak met sowat 150 gram kristal-metamfetamien (tik) gevind. Die beraamde straatwaarde van die dwelms beloop R82 500.
Twee mans, onderskeidelik 31 en 33 jaar oud, en ’n 45-jarige vrou is in hegtenis geneem op aanklag van besit van dwelms.
Die drie verdagtes het Maandag, 18 Augustus 2025, in die hof verskyn.

