Verslaggewer – Isaac Cloete
NAMAKWALAND: – Die SA van Wyk Hoërskool-gemeenskap in Bergsig, Springbok, is tans in die wolke na die reuse-sukses van hul goue jubileumfees.
Omdat die skool vanjaar 50 jaar as volwaardige hoërskool vier, was almal dit eens dat die mylpaal op groot skaal gevier moes word – en só het dit toe gebeur.
Die hoogtepunt van die vieringe was Saterdagaand se skitterende en bekorende Winterbal – die resultaat van maande se harde werk om fondse in te samel. Dié inisiatief is gelei deur juffrou Margeret Cloete, wat na verwagting aan die einde van die jaar aftree. Sy en haar toegewyde reëlingskomitee het met vasberadenheid die leisels geneem en die wa suksesvol deur die drif getrek.
Die stylvolle Springbok Gasteplaas het die perfekte agtergrond gebied vir die afsluiting van die intensiewe voorbereidingswerk.
Toe kom die oomblik waarvoor almal gewag het: die aankondiging van die ingesamelde bedrag. Die komitee, saam met ander ruim bydraers, het daarin geslaag om die ongelooflike bedrag van R531 301,66 in te samel. Voeg daarby nog R200 000, en die totaal is eenvoudig verstommend.
Seremoniemeester Desmon Watt het die bedrag soos ’n ware TV-aanbieder bekendgemaak – en die saal het in jubelkrete, applous, voetestampe, emosionele omhelsings en selfs ’n traan van blydskap ontplof.
Nadat die “goue aap uit die mou” was, het die feesvieringe tot in die vroeë oggendure aangehou. Die Kallies Dance Band van Grabouw het gesorg dat die dansvloer nooit leeg was nie. Teen sonsopkoms moes party feesgangers eers besef dat selfs die grootste fees ’n einde moet hê.
Die aand was gelaai met styl, glans en luister – met gaste wat uitgevat was soos bekendes by die Durban July. Soms het dit selfs gelyk asof hulle met die pragtig versierde décor meegeding het.
Ongeveer 400 gaste, van heinde en verre – selfs uit die buiteland – was teenwoordig. Baie oud-leerders, wat hul merk regoor die wêreld gemaak het, het op verskillende maniere ruim bygedra tot die skool se fonds.
Voorbeelde sluit in:
- Graeme van der Ross, ’n rekenmeestersfirma-eienaar in Australië.
- Freddie “Vissie” Cloete, tans woonagtig en werksaam in die Verenigde Arabiese Emirate.
- Bertus Damon, nou ’n Namibiese burger en wêreldkampioen in dubbel-amateur paregolf.
- Pieter Cloete, oud-rugbyspeler, wat bekend staan vir sy bereidwilligheid om terug te gee.
Bekende gesigte soos Kenneth Makatees (SABC-faam) en die akteur Elton Landrew was ook onder die gaste. Die enigste vorige (waarnemende) skoolhoof teenwoordig was Eddie van Wyk, broer van die oorlede Samuel Anton van Wyk – na wie die skool vernoem is.
Die volgende persone het elk R50 000 geskenk:
- Graeme van der Ross
- Eddie van Wyk
- Pieter Cloete
- Die SA van Wyk Oud-leerders Golfklub
Intussen het die huidige hoof, Stanley Thiart, aangekondig dat die skool die SA van Wyk Hulpverleningsfonds op die been gebring het.
“Dit is die grootste fonds in die geskiedenis van die skool,” het Thiart gesê.
“Ek wil die hele SA van Wyk-familie bedank vir hul volgehoue ondersteuning, asook elke ander rolspeler en lid van die publiek vir hulle bydraes – hoe groot of klein ook al.”