Kaapstad:- Die eerste adjunk-voorsitter van die Cape Amalgamated Taxi Association (Cata), Mnikeli Mgope (61), is Woensdagaand doodgeskiet, terwyl hy in sy Toyota Fortuner by die Nyanga-taxistaanplek gesit het.
Sy dood volg op die voortdurende konflik tussen Cata en Codeta oor die Somerset-Wes–Khayelitsha-roete, wat reeds meer as tien lewens geëis het.
Volgens Cata-woordvoerder Nkululeko Sityebi was Mgope alleen toe onbekende aanvallers hom doodgeskiet het. Hy het in die Wynberg-gebied gewerk.
Kort ná die voorval is nóg twee taxi-eienaars in Amsterdamstraat, Brown’s Farm, aangeval. ’n 42-jarige man is dood en ’n 34-jarige man is in die hospitaal opgeneem.
Polisiewoordvoerder Wesley Twigg het bevestig dat sake van moord en poging tot moord ondersoek word. Die verdagtes is nog nie in hegtenis geneem nie.
Die polisie vra dat enige iemand met inligting Crime Stop by 0860010111 skakel of die My SAPS-toep gebruik.

