Deur Isaac Cloete
Springbok: – Die Suzuki Griekwas het Saterdag op Ellispark vir ’n sprokiesmoment gesorg toe hulle die Curriebeker-eindstryd teen die Fidelity ADT Leeus met 27-25 in beseringstyd gewen het.
Vir die Noord-Kaap, waar rugby diep in die gemeenskap se are vloei, het dié oorwinning nuwe hoop en trots laat ontvlam. Die laaste keer dat die Griekwas die gesogte trofee kon lig, was in 1970 – byna 55 jaar gelede.
Naelskraap oorwinning
Teen rustyd was die Leeus 17-14 voor en het dit gelyk asof die eindstryd in enige rigting kon draai. In die tweede helfte het beide spanne alles ingesit. Met slegs twee minute oor, was die Leeus steeds 25-24 voor en op die rand van ’n titelviering.
Die drama het egter in die doodsnikke afgespeel.
’N strafskop aan die Leeus se kant is deur die televisie-skeidsregter hersien en omgedraai. George Whitehead, die Griekwas se losskakel, het die beslissende drie punte oorgeklits en só ’n historiese triomf vir sy span verseker.
Leiers se reaksie
Monte Engelbrecht van Springbok, President van Griekwas Rugby sedert 2020, kon sy trots kwalik beteuel:
“Harde werk, integriteit en toewyding lê agter hierdie sukses. Ons deel ’n visie van uitnemendheid, met die Suzuki Griekwas as die Provinsiale vlagdraer,” het hy gesê.
Hy het die bestuur, afrigters, spelers, personeel en ondersteuners bedank vir hul volgehoue ondersteuning. Engelbrecht het ook teruggedink aan 2022 toe die Griekwas die eindstryd 19-26 teen die Pumas verloor het.
“Dít maak hierdie oorwinning nog meer spesiaal. Dit is nie net vir Kimberley nie, maar vir die hele Noord-Kaap. Ons wil die beker by verskillende streke uitneem sodat almal saam in die triomf kan deel,” het hy bygevoeg.
Trots uit Namakwaland
Uit Springbok het Engelbrecht besondere lof ontvang. Pietie Cloete, bestuurslid van die Desert Daisies rugbyklub, het gesê:
“Ons is trots op Monte. Hy is die eerste een van ons Namakwalanders wat die Curriebeker so omhoog gehou het.”
Nuwe hoop vir die Provinsie
Vir Noord-Kapers simboliseer die oorwinning meer as net ’n sportprestasie. Dit het ’n gevoel van nuwe hoop gebring – dat rugby die provinsie op verskeie vlakke vorentoe kan neem. Met dié vierde Curriebeker-titel, en die eerste in meer as ’n halfeeu, is die Griekwas besig om hul eie plek in Suid-Afrika se rugbygeskiedenis weer opnuut vas te skryf.
Foto’s – Google.com