Onwettige vuurwapens, ammunisie en dwelms gekonfiskeer
KAAPSTAD:- Die voortdurende stryd teen die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, het weer vrugte afgewerp toe lede van die Anti-Bende-eenheid verskeie verdagtes in hegtenis geneem het vir die onwettige besit van vuurwapens, ammunisie en dwelms.
Volgens die polisie het lede Woensdagaand ‘n perseel in Horizon Court, Ottery, deursoek waar hulle ‘n 9mm-pistool met 27 patrone ammunisie gevind het. ’n Volwasse man is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.
In ’n onverwante voorval, het dieselfde eenheid ’n perseel in Ventura Straat, Factreton, deursoek waar hulle ’n 7.65-pistool met vyf patrone onder die houtvloer van die huis gevind het. ’n 46-jarige man is gearresteer vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Verder het die Anti-Bende-eenheid ook ’n deursoeking uitgevoer by ’n woning in St. Michaels Way, Lotus River, waar ’n 33-jarige man in hegtenis geneem is vir die besit van dwelms. Die polisie het 365 mandrakstablette, 26 pakkies kokaïen, 57 pakkies tik en ’n onbekende bedrag kontant in beslag geneem.
Die verdagtes sal binnekort in die Wynberg en Goodwood Landdroshowe verskyn sodra hulle formeel aangekla is.
Die Anti-Bende-eenheid sê hulle sal voortgaan om misdaad te beveg en onwettige wapens van die strate te verwyder.
#StopMisdaad #GunsOffTheStreets #AntiGangUnit
Bron: SAPS Nuus


